NOORDWES. – Die Potchefstroom-polisie vra die publiek se hulp om Jurie Jacobus Pieters, ‘n 60-jarige, op te spoor wat twee weke gelede spoorloos verdwyn het.
Letlotlo Mmokwa, polisiewoordvoerder, sê Pieters is laas op Woensdag 5 Augustus by die MooiRivier Mall gesien, waar die bestuurder van Huis Hebron Farm hom afgelaai het. Die polisie het sedertdien ‘n soektog van stapel gestuur en uitgebreide ondersoeke gedoen, maar sonder enige sukses. Met sy verdwyning het Pieters ‘n swart baadjie, blou denimbroek, bruin stewels en ‘n bril gedra. Hy is lig van gelaatskleur, het ‘n skraal liggaamsbou en grys hare.
Enigiemand met inligting oor waar Pieters hom bevind, kan AO Lungile Plaatjie by 082 779 7200 bel.





