GAUTENG. – Lt.kol. Div de Villiers, oftewel Jacobus Gideon, ‘n vlieënier met 37 jaar diens aan die Wonderboom-lugleuel, het in die week ná 46 jaar in diens van die polisie uitgetree.
Lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie het van die kolonel afskeid geneem wat in 1980 sy polisieloopbaan as konstabel by Pretoria-Sentraal-polisiestasie begin het. Sy passie vir lugvaart het hom na die polisie se lugvleuel gelei.
Nadat hy sy kommersiële vlieënierslisensie op eie koste verwerf het, het die polisie hom verder opgelei, waarna hy sedert 1989 deel van die lugvleuel was. By die Wonderboom-lugvleuel het hy ‘n groot verskeidenheid helikopters en vastevlerkvliegtuie gevlieg, ter ondersteuning van misdaadbestryding, in soek-en-reddingsoperasies en ander noodreaksies. Gedurende sy loopbaan het hy sowat 16 900 vliegure opgebou en onder 11 nasionale polisiekommissarisse diens verrig.
Een van die hoogtepunte van sy loopbaan was toe hy in die VSA opleiding ontvang en daarna ‘n Cessna Sovereign vir die polisie na Suid-Afrika gevlieg het. Hy is ook in 2019 met die Nasionale Kommissaris-toekenning vir uitstaande dienslewering vereer en het vroeër ‘n sertifikaat van lof ontvang vir sy rol tydens die Carousal-kontant-in-transito-roof in 2007. Benewens sy operasionele werk het De Villiers ook ‘n belangrike rol gespeel in die opleiding en mentorskap van jong vlieëniers en lugwetstoepassingsbeamptes, en só gehelp om ‘n nuwe geslag SAPD-vlieëniers te ontwikkel.
Hy word nie net binne die polisie nie, maar ook in vlieërskringe, wyd erken vir sy jarelange diens, professionele kundigheid en toewyding aan lugvaart. Kollegas en vriende wens hom alle voorspoed en geluk toe met sy aftrede en die nuwe hoofstuk wat voorlê.








