MPUMALANGA. – ‘n Polisiebeampte wat nie aan diens was nie, is Saterdagaand in hegtenis geneem ná ’n beweerde voorval van winkeldiefstal van piesangs by ’n supermark in die Barberton-gebied. Die bedrag van die piesangs beloop glo R43,80.
Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Mpho Nonyane-Mpe, het veiligheidsdienste by die winkel omstreeks 18:30 inligting ontvang dat ’n man glo ekstra piesangs in ’n sak gesit het nadat dit reeds geweeg en geprys is. Die produk is weer geweeg en daar is bevind dat die gewig nie met die prysetiket ooreenstem nie.
Die man is aangehou en ’n saak is geopen. ’n Ondersoek volg, terwyl dissiplinêre stappe ook ingestel sal word. Die beampte sou na verwagting Maandag op ‘n aanklag van winkeldiefstal in die Barberton-landdroshof verskyn.
Volgens terugvoering is die saak nie op die hofrol geplaas nie. Geen verdere besonderhede is in hierdie stadium bekend gemaak nie.





