LIMPOPO. – Ses mense is Dinsdagoggend dood nadat ’n polisievoertuig en ’n wit Mahindra-bakkie op die R524 Levubu-pad in die Vhembe-distrik in ’n kop-aan-kop-botsing betrokke was. Die oorledenes sluit twee vroue en een manlike poisiebeampte, twee manlike verhoorafwagtendes en die bestuurder van die burgerlike voertuig in.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê die polisievoertuig van Tshilwavhusiku-polisiekantoor was onderweg na ’n korrektiewe fasiliteit in Thohoyandou met drie verhoorafwagtende gevangenes toe die botsing plaasgevind het. Vyf mense is aanvanklik op die toneel dood verklaar, terwyl ’n derde polisiebeampte wat ernstig beseer is en na ’n plaaslike hospitaal vervoer is, later aan haar beserings beswyk het. ’n Verdere verhoorafwagtende gevangene is ernstig beseer en word onder polisiebewaking in die hospitaal behandel.
’n Saak van strafbare manslag is by Makhado-polisiekantoor geopen. Die omstandighede van die botsing word ondersoek. Die identiteite van die oorledenes is aan die polisie bekend, maar sal eers bekend gemaak word nadat hul naasbestaandes in kennis gestel is.