GAUTENG. – Die DA sê leefstylondersoeke binne die polisie moet ernstiger hanteer word en nie bloot ’n administratiewe oefening wees nie.
Lisa Schickerling, DA-woordvoerder oor die polisie, sê ’n onlangse parlementêre antwoord toon dat 122 verskille by 737 senior polisiebestuurders geïdentifiseer is. Dit sluit onder meer voertuie en eiendomme in wat nie verklaar is nie, asook maatskappybelange en bates wat nie met die betrokke amptenare se bekende inkomste strook nie. Volgens die antwoord is 72 sake gedurende die 2025/26-boekjaar vir leefstylondersoeke verwys. Ses is vir verdere ondersoek verwys, terwyl 30 sake steeds ondersoek is ná die antwoord verskaf is.
Schickerling sê dit is kommerwekkend dat geen van die betrokke beamptes volgens die polisie aan dissiplinêre optrede onderwerp is of na ’n ander wetstoepassings- of toesighoudende liggaam verwys is nie.
Die DA sê enige ernstige onreëlmatighede wat ná verifikasie bestaan, moet behoorlik ondersoek word en waar nodig tot verdere optrede lei.





