OOS-KAAP. – ’n Gewapende roof by Laerskool Nzuzo in Zwelitsha het Vrydagoggend tot ’n grootskaalse polisie-operasie gelei, met ‘n polisiehond wat sedertdien vermis word en drie gewapende verdagtes steeds op vrye voet. ‘n Hele aantal skootrekenaars en selfone van die skool het ook in die slag gebly.
Volgens brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, het drie gewapende mans die skool binnegegaan en personeel met vuurwapens gedreig voordat hulle hulle met 20 skootrekenaars en 15 selfone uit die voete gemaak het. Die verdagtes het ook die skoolhoof se swart Peugeot-voertuig gesteel om van die toneel te ontsnap.
Die Mdantsane-blitspatrollie het die gesteelde voertuig vinnig, sowat ’n kilometer van die skool af, opgespoor. Die verdagtes is gesien waar hulle in digte bosse naby ’n dam invlug, waarna die K9-eenheid ontbied is. Sers. Don en sy polisiehond, B8088 Floppy, het die verdagtes in die bosse opgespoor en omsingel. Toe die verdagtes verder die digte plantegroei inhardloop, is die hond ontplooi om hulle te keer.
Kort daarna is ‘n geskreeu uit die bos gehoor, gevolg deur skote. Bykomende polisielede het opgedaag om te help, maar toe hulle die gebied binnegaan, kon die hond nie opgespoor word nie en die drie verdagtes het daarin geslaag om te ontsnap. Lug- en grondsoektogte is later geloods, met die hulp van gemeenskapslede wat hommeltuie beskikbaar gestel het. Ten spyte van uitgebreide pogings is die soektog teen 17:30 gestaak weens swak sigbaarheid en sal dit weer met dagbreek hervat word. Floppy het ten tyde van sy verdwyning ‘n polisieharnas aangehad.
Lt.genl. Vuyisile Ncata, die provinsiale kommissaris, het gesê die veiligheid van die polisiehond is ’n groot bekommernis. Hy het ’n dringende beroep op die publiek gedoen om enige inligting oor die hond of die verdagtes aan te meld.





