LIMPOPO. – ’n 44-jarige administrasieklerk verbonde aan die Phalaborwa-polisiekantoor se finansiesafdeling is aangekla van diefstal van geld nadat meer as R50 000 na bewering uit ’n polisiekluis verdwyn het.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die voorval het op 30 Oktober 2025 tydens ‘n roetine-inspeksie deur die provinsie aan die lig gekom, toe die kluis leeg gevind is. Die betrokke werknemer kon glo nie ’n verduideliking gee vir die vermiste geld nie. Die saak is na die provinsiale teen-korrupsie-eenheid verwys en sy is op 3 Junie 2026 formeel van diefstal aangekla. Sy sal op 30 Junie 2026 in die Phalaborwa-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort.
Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris, het haar teleurstelling uitgespreek en gesê die voorval ondermyn vertroue in polisie-personeel. Sy het die finansiële en teen-korrupsie-eenhede geprys vir hul vinnige optrede.





