GAUTENG. – Kol. Ishmael Dawood van die polisie se misdaadintelligensie is op borgtog van R10 000 vrygelaat, nadat hy die Johannesburg-hooggeregshof met ‘n dringende aansoek genader het. Hy word van aanranding en afpersing aangekla.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê Dawood het op 21 Julie in die Johannesburgse-landdroshof voorgekom, waarna die saak tot 24 Julie uitgestel is sodat sy woonadres bevestig en ‘n borgtogaansoek aangehoor kon word. Volgens Mohlatlole is sy woonadres bevestig, waarna die verdediging die Hooggeregshof genader het om sy vrylating op borgtog te versoek. Die staat het nie teen die aansoek beswaar gemaak nie en die hof het borgtog toegestaan. Die NVG beweer Dawood het die klaer in Desember 2023 tydens ‘n ontmoeting in Hillbrow aangerand. Hy sou ook geld van die klaer geëis het en nadat die geld betaal is glo verdere betalings gevra het.
Die saak sal weer op 24 Julie in die Johannesburgse-landdroshof aangehoor word terwyl die ondersoek voortduur.





