Pretoria-vrou skuldig aan beplande moord op lewensmaat

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Antoinette Maritz (37) van Petit is in die Pretoria-hooggeregshof skuldig bevind aan die vooraf beplande moord op Wayne Henderson, haar lewensmaat, sowel as poging tot moord op Henderson se ma, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling.

Johan George Pratt, Maritz se medebeskuldigde, is op 15 April 2025 tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy is gevonnis op aanklagte van moord met voorbedagte rade, poging tot moord, roof met verswarende omstandigheide en regsverydeling.

Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die hof het bevind dat Maritz vir Pratt, haar voormalige kêrel, op 5 November 2023 na haar woning in Suiderberg ontbied het, waar sy saam met Henderson en sy ma gewoon het. Sy het hom toegang deur ‘n venster tot die huis gegee, waarna sy hom deur die nag na die oorledene se kamer geneem het. Die oorledene is aangeval en herhaaldelik gesteek. Maritz en Pratt het daarna glo die liggaam na ‘n ander kamer verskuif.

Die volgende oggend het Pratt die oorledene se ma herhaaldelik met ‘n asbak oor die kop geslaan, vasgebind en beroof. Henderson se liggaam is daarna in sy ma se voertuig gelaai, waarna hy naby Standerton in ‘n veld gelos is. Die beskuldigdes is daarna na Pratt se broer se huis. Hulle is op 15 Maart 2024 in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding.

Maritz het tydens die verhoor onskuldig gepleit, maar die staat het sterk getuienis, insluitend dié van Pratt en die oorledene se ma, aan die hof voorgehou. Die hof het Maritz se weergawe verwerp en die staat se getuies as betroubaar aanvaar.

Die saak is tot 17 Junie vir vonnisoplegging uitgestel.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief