PAARL – Die wenners van die 2025 Wes-Kaapse sporttoekennings is Saterdag 28 Februarue 2026 aangekondig. Die seremonie, aangebied deur die Wes-Kaapse departement van kulturele aangeleenthede en sport, het in die Paarl plaasgevind.
’n Persverklaring oor die seremonie is deur die departement se hoof van kommunikasie, Tania Colyn, uitgereik.
Ses distrikstoekennings-seremonies is aan die begin van die jaar regoor die provinsie gehou. Die provinsiale wenners sal nou genomineer word vir die nasionale sporttoekennings.
Van die wenners van die aand was: Sacha Feinberg-Mngomezulu (Sportman van die Jaar), Annerie Dercksen (Sportvrou van die Jaar) en Ruehan van Romburgh (Afrigter van die Jaar). Die provinsiale minister van kulturele aangeleenthede en sport, Ricardo Mackenzie, het ook ministeriële aanbevelings aan Louis Massyn en Mark Ward toegeken.
Die minister het die wenners en genomineerdes gelukgewens.
“Die Wes-Kaap lewer konsekwent top-atlete, afrigters en administrateurs wat toegewyd is aan die groei van sport in ons provinsie. Hulle is rolmodelle wat ander inspireer om hul sportdrome na te streef en wat help om ’n aktiewe en gesonde provinsie te skep. Baie geluk aan al die wenners en genomineerdes en dankie vir alles wat julle doen om die Wes-Kaap as die sport-hub van ons land te bevestig.”





