Crawford Estate sedert 2014 onvoltooid

Lees ook :

Inwoners van Crawford Estate, geleë naby die Flamingo en Shell Ultra City in Kimdustria, is woedend omdat die ontwikkeling van die luukse gemeenskapskompleks sedert 2014 sloer.

FiND iT het die landgoed besoek en met die inwoners gepraat.
Die erf met ’n geskiedenis

Tremaine Crawford en Rafik Mohamed, mede-direkteurs van Tremaine Crawford Kimberley Property Portfolio (Pty), het die landgoed in 2008 vir R2 miljoen gekoop. Die koop het deur die mat geval en is in 2009 deur die munisipaliteit gekanselleer omrede die munisipaliteit nie die geld ontvang het nie. ’n Moratorium is op die koop geplaas en ’n akte, wat die eiendom aan Fastpulse Trading 534 (Pty) Ltd. oordra, is gevolglik deur die destydse burgemeester, Frank Mashilo, geteken. Crawford het in die Kimberley-hooggeregshof aansoek vir ’n interdik teen die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen om te verhoed dat die landgoed finaal aan Fastpulse oorgedra word. Crawford het in Mei 2009 daarin geslaag om die landgoed teen die oorspronklike prys aan te koop.

Luukse gemeenskap

Volgens ’n artikel wat op 7 November 2014 in die Diamond Field Advertiser verskyn het, is die eiendomme deur die nou gewese GWK Properties bemark. In ’n voorlegging is daar ’n kliniek, parke, inkopiesentrum, ’n crèche, vulstasie en ’n laerskool op die 46 hektaar van Crawford Estate-beplan.

Volgens Rawson, ’n eiendomsagentmaatskappy, is 150 huise in die eerste fase van die projek beplan. Die huise het vanaf R780 000 stuk vir die standaard drieslaapkamereenheid verkoop. Van die eenhede, met luukser dekoropsies, het tot R849 000 beloop. Daar is beraam dat altesaam 900 huise op ‘n beveiligde landgoed vir die R640 miljoen rand projek gebou sou word.

Toe FiND iT die landgoed Maandagmiddag besoek, was daar minder as 50 huise, waarvan die meerderheid onvoltooi is, op die eiendom. Behalwe vir die onbemande deurgang is die meerderheid van die eiendom oorgroei deur bossies en die strate is ongeteer en het geen straatligte nie.

Inwoners gefrustreer met die ontwikkelaar

“Ek is bekommerd omrede ons nog nie ’n okkupasiesertifikaat ontvang het nie as gevolg van krake in die mure en omdat die motorhuis nog nie gebou is nie. Ons kan ook nie ’n verband op die eiendom uitneem of die eiendom verkoop nie. Ek het keer op keer vir Crawford gebel. Ek kry hom nooit in die hande nie en wanneer ek doen, gee hy ’n datum, maar ek wag vandag nog vir die ontwikkeling om afgehandel te word,” verduidelik een van die inwoners by Crawford Estate.

“Die zama-zamas delf al nader aan die landgoed en ons voel nie veilig nie.” Die inwoner ook bygevoeg dat hulle nie munisipale dienste soos vullisverwydering op die landgoed geniet nie.

Nog ’n inwoner, sê: “Ons sukkel nog om ons nakomingssertifikate te kry. Daar het verlede jaar ontwikkeling hier plaasgevind toe ’n maatskappy van Bloemfontein in die projek sou inkoop. Die inwoners van Crawford Estate is gefrustreer omrede hier niks gebeur nie.” Nog ’n inwoner, sê: “Ons het die huis in 2016 gekoop en dit is steeds nie klaar gebou nie. Crawford is nêrens te vinde nie. Daar is belowe dat die ontwikkeling teen Desember 2017 klaar sou wees.”

Ontwikkelaar verantwoordelik vir dienste

Thoko Riet, woordvoerder van Sol Plaatje-munispaliteit, sê: “Die hersonering en onderverdeling van die erf is op 4 Februarie 2008 vir residensiële ontwikkeling deur die raad goedgekeur. Crawford Estate is as ‘n nie-winsgewende organisasie onder seksie 21 geregistreer, daarom is die ontwikkelaar verantwoordelik vir onderhoud, instandhouding en algemene dienslewering van die landgoed. Die munisipaliteit is slegs verantwoordelik vir die keuring van sones en bouplanne en oorsien nie die registrasie van erwe nie. Die landmeter-generaal is verantwoordelik vir die registrasie van erwe. ’n Okkupasiesertifikaat kan slegs uitgereik word indien die eiendom oor al die nodige sertifikate van nakomings beskik,” verduidelik Riet.

Meer tyd word benodig vir antwoorde

Crawford het aan FiND iT oor die foon gesê dat hy meer tyd nodig het om op ons vrae en die kwessies van inwoners te antwoord.

Crawford antwoord FiND iT vrae

Crawford het van FiND iT se vrae oor die ontwikkeling per e-pos en per telefoniese gesprek as volg geantwoord:

“Ons sal poog om FiND iT se vra te beantwoord, maar ons is ontevrede met die kórt kennisgewing wat van ons vereis was om kommentaar te kan lewer. Een van die inwoners het sonder sy okkupasiesertifikaat ingetrek, sy waarborg het verjaar en sy bank weier om vooruitbetalings te maak. Dus het hy kontrak verbreek omrede hy nie die boukontrak nagekom het nie. Daarom is bouwerk by sy woning gestop. Bouwerk sal slegs voortgaan indien die inwoner sy kontrak gehoorsaam. Die inwoner het ook versuim om okkupasiehuur te betaal en is R100 000 agterstallig,” verduidelik Crawford.

Crawford sê: “Die hersonering vir die bou van ’n skool en kliniek het nie verjaar nie. Die inwoners is verantwoordelik om vir dienste op die landgoed te betaal, sien paragraaf 3 van die kontrak. Alle inwoners het hulle kontrakte stiptelik geteken en het geweet hulle trek by ’n bouterrein in. Straatligte word ook in die kontrak gestipuleer. (Die onwettige mynbedrywighede) is ’n kwessie wat die hele Kimberley teister en dit word tans deur die owerhede hanteer.”

“Dit is die kliënte wat versuim het om hulle kontraktuele pligte na te kom en nie die ontwikkelaar nie. Die relevante finansiële instellings is reeds in kennis gestel en die banke het inspekteure en senior bestuurders uitgestuur om die oortredings te evalueer. Die banke is in guns van die ontwikkelaar en het dus alle vooruitbetalings aan die ontwikkelaar gestaak. Van die inwoners het vooruitbetalings wat bestem was vir die ontwikkelaar in hulle eie bankrekening laat inbetaal. ’n Kriminele klag is by die Kimberley-polisiekantoor ingedien, maar die dossier het verdwyn.”

Toekomstige ontwikkeling

“Fase een omvat slegs 8% van die totale ontwikkeling wat by Crawford Estate beplan word. Fase twee maak voorsiening vir 224 erwe wat alreeds uitgemeet is en die bou van die infrastruktuur sal binnekort geskied. Fase een is tans gestop totdat alle inwoners hulle getekende kontrakte gehoorsaam. Die ontwikkelaar het ook die NHBRC in kennis gestel en hulle het aan ons bevestig dat baie van die inwoners se waarborge verval het omrede hulle die wet oortree het nadat die inwoners ongeregistreerde bouers aangestel het. Van die inwoners het ook versuim om watermeters te installeer wat ’n vereiste is vir die eiendom. Inwoners wat versuim, sal, tot die volle mag van die wetgewing van ons mooi land verantwoordelik gehou word. Ontwikkeling duur voort,” sê Crawford.

FiND iT hou jou op hoogte. – Michael Hawthorne

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App