R89 000 aan NVG verbeurd verklaar nadat student glo ontvoer en losprys geëis is

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Die NVG se batebeslagleggingseenheid het ‘n verbeurdverklaring van R89 000 verkry, ná die inhegtenisneming en hofverskyning van die Zimbabwiërs Truth Mambemba en Takudzwa Chauruka. ‘n Universiteitstudent (20) is glo ontvoer en ‘n losprys van haar ouers geëis, waarna R200 000 deur die verdagtes by verskeie OTM-masjiene onttrek is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die verdagtes is van ontvoering, twee gevalle van verkragting, roof met verswarende omstandighede, afpersing, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en onwettige verblyf in Suid-Afrika aangekla. Volgens die batebeslagleggingseenheid het die voorval op 2 Oktober 2024 plaasgevind toe die student van die Universiteit Stellenbosch alleen van ’n klub teruggestap het na haar universiteitsverblyf. Sy kon slegs onthou dat sy in ‘n voertuig was, met ‘n vuurwapen gedreig en verkrag is. Die mans het haar gedwing om ’n video-oproep na haar ouers te maak en geld in haar bankrekening te deponeer. Die ouers het uiteindelik R200 000 betaal, wat die verdagtes by verskeie OTM’s onttrek het, voordat hulle die student R200 gegee en in ‘n e-taxi vrygelaat het.

Ná die geldonttrekkings en geslote kringtelevisie-opnames van die betrokke OTM’s en ‘n vulstasie ontleed is, is die verdagtes opgespoor. Die voertuig is later op die N2 naby Groot-Brakrivier gestop, waar R89 000 kontant, die student se selfoon en bankkaart gevind is. Die verdagtes het beweer die geld was wins van ’n ongeregistreerde e-taxi-besigheid. Hulle is in hegtenis geneem en word tans in die Pollsmoor-gevangenis aangehou nadat hulle in die Stellenbosch-landdroshof borgtog geweier is. Hulle verskyn weer op 3 Maart in die hof.

Die batebeslagleggingseenheid het op 15 September 2025 ’n bewaringbevel vir dieselfde bedrag verkry, waarna die verbeurdverklaring op 12 Februarie toegeken is.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief