Raaisel oor vermiste seun ná 6 maande onopgelos

Lees ook :

Foto: SAPOL

AUSTRALIë. – Gus Lamont (4) is nou reeds ses maande vermis, nadat hy spoorloos van sy familie se afgeleë plaas, Oak Park Station, 40 km suid van Yunta, in Suid Australië se Outback verdwyn het. Die raaisel waar Gus kan wees, bly steeds onopgelos.

Gus is op 27 September 2025 laas buite die plaashuis gesien waar hy met ‘n grafie in die sand gespeel het. Na drie uur het sy ouma hom as vermis aangemeld. Ondanks een van die grootste soektogte in die staat se geskiedenis, is geen spoor van hom nog gevind nie. Die saak is in Februarie deur die Suid-Australiese polisie as ’n ernstige misdaad verklaar, nadat die polisie geen bewyse kon vind dat hy bloot weggeraak het nie. Ontvoering deur ’n vreemdeling word ook as onwaarskynlik beskou weens die afgeleë ligging.

Die 12 man-ondersoekspan, Taakspan Horizon, volg steeds leidrade op en het reeds ’n verdagte geïdentifiseer, maar geen inhegtenisneming is nog gemaak nie. Meer as 500 wenke is ontvang en word steeds ondersoek. Die polisie het ook bevestig dat twee familielede nie direk met hulle saamwerk nie en slegs deur regsverteenwoordigers kommunikeer, hoewel hul identiteit nie bekend gemaak is nie.

Intussen het Gus se ouers, Josh en Jess, weer ’n emosionele beroep op die publiek gedoen om met enige inligting na vore te kom. Hulle sê selfs die kleinste detail kan help om antwoorde te bring. Vir die familie bly die onsekerheid ondraaglik, terwyl die soektog na die jong seuntjie voortduur. Sy ouers is nie verdagtes in die saak nie.

Polisiekommissaris Grant Stevens sê die ondersoek bly ’n topprioriteit en dat speurders sal aanhou werk totdat daar duidelikheid vir die familie is. Hy het bevestig dat die ondersoek nie verdere soektogte by die plaas uitsluit nie en die ondersoekers sal na Oak Park-stasie terugkeer as deel van die voortgesette soektog. Selfs ‘n dam is leeggetap en mynskagte van die laat 1890’s deursoek.

Bronne: Australian Broadcast Corporation, 9News, RNZ, BBC

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief