Brekende Nuus
Nuus

Ramaphosa kondig vrystel van 2,5 m. hektaar staatsgrond aan

Foto: Ter illustrasie

President Cyril Ramaphosa sê die regering stel ongeveer 2,5 miljoen hektaar staatsgrond in verskillende dele van die land aan swart boere beskikbaar om landbouproduksie uit te brei, werksgeleenthede te skep en die land se landbousektor meer inklusief te maak. Die grond is oor die jare deur die regering bekom en sal aan kwalifiserende begunstigdes met titelaktes beskikbaar gestel word.

De president het die aankondiging op 8 Oktober tydens ’n besoek aan Redlands Dairy Farm in Stutterheim, Oos-Kaap, gemaak en dit Maandag in sy weeklikse boodskap aan Suid-Afrikaners herhaal. Hy het verduidelik dat die grond voorheen oor die algemeen op korttermynhuurkontrakte beskikbaar gestel is, wat dit vir boere moeiliker gemaak het om finansiering te bekom en in hul ondernemings te belê. Die regering se proaktiewe grondverkrygingstrategie is daarop gemik om toegang tot grond te verbeter, maar Ramaphosa beklemtoon dat boere ook finansiering, opleiding, vaardighede en ondersteuning nodig het om suksesvolle kommersiële ondernemings te bou.

Die regering sê die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling het reeds met die vrystel van die grond en die uitreiking van titelaktes begin. Die program vorm deel van pogings om meer swart kommersiële boere te vestig en die land se landbouproduksie uit te brei.

Bronne: From the desk of the President 12 Oktober 2026, Toespraak tydens besoek aan Redlands Dairy Farm 8 Oktober 2026