Brekende Nuus
Nuus

Ramaphosa kondig noodmaatreëls aan ná moorde op vroue

Foto: Ter illustrasie

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand vier onmiddellike maatreëls aangekondig om geweld teen vroue en meisies te bekamp, te midde van die reeks moorde in Ekurhuleni, waar die liggame van 11 vroue sedert Julie gevind is.

Ramaphosa het in sy nasionale toespraak gesê die polisie se ondersoek na die moorde is tot nasionale vlak opgeskuif en dat verskeie verdagtes reeds in hegtenis geneem is. Hoewel daar kommer bestaan dat die moorde moontlik met mekaar verband hou, is daar volgens hom tans geen bewyse dat ‘n enkele persoon daarvoor verantwoordelik is nie. Hy het erken dat die regering se pogings tot dusver onvoldoende was en dat meer gedoen moet word om vroue te beskerm.

Die president het opdrag gegee dat onopgeloste moord-, verkragtings- en ander ernstige sake waarby vroue en kinders betrokke is, binne 60 dae hersien word, met herstelplanne vir sake wat binne 90 dae vasgeval het. ‘n Befondsde plan om forensiese agterstande aan te spreek, moet ook binne 60 dae voorgelê word. Munisipaliteite moet intussen veiligheidsoudits uitvoer om onder meer swak straatbeligting, onveilige openbare ruimtes en gevaarlike vervoerroetes te identifiseer. 

‘n Verdere plan om alkoholverwante geweld deur wetgewing en toepassing van bestaande wette aan te spreek, moet ook aan die kabinet voorgelê word.

Ramaphosa het beklemtoon dat geweld teen vroue nie net deur strenger wetstoepassing opgelos kan word nie en dat voorkoming by gesinne, skole en gemeenskappe moet begin. Hy het mans en seuns opgeroep om hulle teen mishandeling en teistering uit te spreek en nie stil te bly wanneer ander mans geweld teen vroue pleeg nie. Hy het ook belowe dat die regering kwartaalliks oor die vordering met die aangekondigde maatreëls verslag sal doen.

Druk hier om die volledige toespraak te lees.