Brekende Nuus
Nuus

Ramaphosa belowe geen steen onaangeroerd ná moorde op vroue

Foto: Presidensie
Foto: Presidensie

President Cyril Ramaphosa het gesê geen klip sal onaangeroerd bly om die onlangse moorde op vroue in en om Kempton Park op te los nie.

Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, sê Ramaphosa het sy medelye met die families en gemeenskappe wat deur die moorde geraak is, uitgespreek en gesê die voorvalle veroorsaak vrees en onsekerheid, veral onder vroue.

Volgens die presidensie het Ramaphosa met die minister van polisie en die waarnemende nasionale polisiekommissaris oor die ondersoek gepraat. Hy het opdrag gegee dat die sake geprioritiseer word en dat alles moontlik gedoen word om diegene wat verantwoordelik is, aan die pen te laat ry. Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om enige inligting wat met die sake verband hou aan die polisie te verskaf.

Enigiemand met inligting, of wat ’n vermiste familielid of vriend het, kan AO Elvis Manyike by 082 465 7249 bel.