LIMPOPO. – Die staat het sy saak teen Dawie Groenewald en Tielman Erasmus ná ’n pleitooreenkoms in ’n dekade lange saak oor beweerde renosterhoring-smokkel, geldwassery en georganiseerde misdaad in die Polokwane-hooggeregshof afgesluit. Groenewald is tot ‘n boete van R2 miljoen of vier jaar tronkstraf gevonnis.
Die ondersoek spruit uit ’n beweerde netwerk wat reeds in 2008 begin het, waar renosterhorings glo deur ’n jagonderneming en betrokke individue verskaf is vir die onwettige internasionale mark in Suidoos-Asië. Die Staat sê die pleitooreenkoms is aanvaar in die belang van geregtigheid, onder meer omdat geen renosters in die betrokke sake gestroop is nie.
Mashudu Malabi, NVG-woordvoerder, sê Groenewald, wat as die beweerde meesterbrein van die renosterhoring-netwerk beskou is, is ook ’n verdere 10 jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar onder streng voorwaardes opgeskort is. Volgens die hof het die saak gehandel oor die bestuur van ’n georganiseerde onderneming ingevolge die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad, met bykomende boetes en vonnisse op verskeie ander aanklagte wat in totaal meer as R10 miljoen en 36 jaar tronkstraf beloop, maar wat onder die pleitooreenkoms onderhewig is aan spesifieke voorwaardes.
Die saak teen Karel Toet, sy vrou Marisa Toet en Koos Pronk is tot 20 Augustus vir verdere oorweging deur die nasionale direkteur van openbare vervolgings uitgestel.





