LIMPOPO. – Die ontbinde en verminkte liggaam van ‘n vrou, wat vermoedelik Anna Makhukhu Ramollo (18) van Rakgoatha is, is gekry nadat ‘n boer ‘n slegte reuk gerapporteer het. Die liggaam is Woensdagaand langs die R519-pad tussen Zebediela en Polokwane ontdek. Sy en haar broer, Nakedi Ramollo (24), is op 1 Mei as vermis aangemeld. Die vrou was gebonde aan ‘n rolstoel.
Kol. Malesela Ledwaba sê ‘n vlak graf is ontdek wat met gesnyde takke bedek was. Die liggaam is na forensiese dienste geneem waar ‘n nadoodse ondersoek en ‘n formele identifisering sal plaasvind. ‘n Moordsaak is geopen, terwyl ondersoeke voortduur na die broer, wat steeds vermis is wat moontlik kan help om lig op die saak te werp.
Enigiemand met relevante inligting kan sers. Rodney Mothiba by 076 098 6633 bel.



