Rubriek: Is Christene dan kannibale?

Lees ook :

Lank, lank gelede was ek ’n baie aktiewe lidmaat in my gemeente. Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek skat ek het vir omtrent tien jaar my eie selgroep gelei. In ’n stadium het die Here egter begin om my rooster van verantwoordelikhede te snoei. Een vir een het dinge begin wegval, totdat Hy vir my gewys het dat Hy my roep om te skryf — nie om die honderd ander dinge te doen waarmee ek my so graag besig gehou het nie.

Nou is dit al ’n paar jaar later. Ek lei nie meer ’n selgroep nie en is ook nie deel van een nie. Maar ’n preek het onlangs iets in my wakker gemaak.

Ons nuwe pastoor het vertel hoe Jesus vir Sy dissipels gesê het dat hulle Sy vlees moet eet en Sy bloed moet drink. Dis nogal ’n sterk beeld, nè? Maar Hy het natuurlik simbolies gepraat. Hy bedoel dat ons deel moet word van Sy liggaam, want Hy is die brood van die lewe. Jesus het beslis nie bedoel dat hulle Hom letterlik moes eet soos kannibale nie.

Dink ’n oomblik daaroor: wanneer jy iets eet of drink, word dit deel van jou. Dis ook hoekom ons die nagmaal gebruik.

Die Bybel sê dat die kerk die liggaam van Christus is, en dat ons Sy lede is, met Hom as die Hoof. Dit laat my wonder: is jy deel van die liggaam, of staan jy buite? As ek deel is, moet ek mos saam met die liggaam groei, saam eet en saam drink. Kan ’n mens regtig deel wees as jy nêrens inskakel nie?

Daar was tye in my lewe wat ek nie deel van ’n gemeente was nie. Of soos onlangs ‘n tipe van ‘n verlof van die kerk gevat het. Ek was steeds ’n kind van God, maar diep binne het ek geweet dat ek weer moet terugkeer.

Hierdie week het ek vir die eerste keer in seker twee jaar weer ’n selgroep besoek. Nie om te lei nie — net om deel te wees. En dit was ’n merkwaardige ervaring.

Ek ken God se stem en ek weet hoe Hy met my praat. Maar daardie aand het Hy harder gepraat as wat ek gewoond is. Terwyl ek luister hoe die Woord bespreek en geïnterpreteer word, spreek Hy tot my hart. Die gesprekke in die groep laat my dinge uit verskillende hoeke sien — hoeke wat ek nie altyd in my eie stiltetyd raaksien nie.

Ek glo steeds dat die kosbaarste tyd saam met God in my binnekamer is, afgesonder van die wêreld. Maar God is nie net daar nie — Hy is oral. En Hy praat graag ook deur Sy kinders.

Daarom wil ek jou aanmoedig: as jy ’n kind van God is en nog nooit ’n selgroep bygewoon het nie, waag dit gerus en neem deel aan die liggaam. En as daardie groep nie vir jou werk nie, probeer ’n ander een. Moenie ophou soek voordat jy ’n plek kry waar jy tuis voel nie.

Gedagte vir die dag:

Ons hoor God dikwels die duidelikste wanneer ons saam met ander na Hom luister.

Hebreërs 10:25

“En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief