Rubriek: Net katliefhebbers sal dit verstaan

Lees ook :

Het jy al ooit ervaar dat jou kat eendag net verdwyn soos mis voor die son en dan sommer vir ‘n paar dae wegbly?

Indien wel, sal jy weet watter bekommernis ek weer hierdie week ervaar het. Ek wens Jinkee, my jong wyfiekat, kon my net inlig voordat sy verdwyn – of dat ek haar sommer ’n WhatsApp kon stuur om te vra of sy oukei is. Dis daardie onsekerheid wat so senutergend is.

Hoe dit ook al sy, ek het vir Jinkee Donderdag laas gesien, en teen Saterdag het ek so ‘n bietjie begin bekommerd raak. Ek roep toe in die veld in vanaf my agterdeur met daardie fyn stemmetjie waarmee ek my katte gewoonlik aanspreek. Jy weet mos – jy het ‘n normale stem, en dan jou kat-stem wat nie veronderstel is om deur ander mense gehoor te word nie. Hopelik was die bure se TV lekker hard gestel.

Terwyl ek in die huis rondbeweeg met kosmaak en ander dinge, kon ek nie help om elke nou en dan by die deur uit te loer in die hoop dat ek haar daar ver in die veld sou sien nie, op pad huis toe.

Die gedagte van die vader wat vir sy verlore seun gewag het, het toe by my opgekom. Ek kon my indink hoe hy moes gevoel het om dag na dag die pad dop te hou, in die hoop dat sy seun sou terugkom huis toe.

Jy is dalk daardie seun of dogter wat die pad so ‘n bietjie byster geraak het en jou eie rigting ingeslaan het. Jy weet al lank dat jy nie is waar jy behoort te wees nie, maar jy wonder dalk of jy nog waardig is om vergewe te word.

Ek kan vir jou sê: jy is.

En jou Hemelse Vader se liefde vir jou is oneindig groter as die liefde wat ek ooit vir my katte kan hê.

Die verlore seun het met leë hande teruggekeer. Hy kon nie teruggee wat hy verkwansel het nie. Hy het niks gehad om sy vader aan te bied in ruil vir ‘n plek in die huis of om weer sy guns te geniet nie.

Tog het sy vader hom met ope arms ontvang.

Meer as dit – hy het hom herstel, hom aanvaar en vir hom alles gegee wat hy nodig gehad het.

Miskien wag jou Hemelse Vader vandag ook vir jou. Nie met veroordeling nie, maar met liefde. Nie met gevoude arms nie, maar met uitgestrekte hande.

Kom huis toe.

Jesaja 1:18

“Kom nou en laat ons die saak uitmaak,” sê die HERE. “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief