Ons het by die maatskappy waar ek werk so ’n maand gelede ’n advertensie vir twee poste geplaas. Ons is gevestig in ’n relatiewe klein dorpie, Springbok, dus het ek gehoop ek kry darem meer as tien opsies om van te kies. Min het ek geweet watter sluise oop sou gaan toe ongeveer 700 CV’s by ons instroom!
Ek het nagte om gesit en alles deurgegaan, want dis mos net regverdig om elke persoon se aansoek noukeurig te besigtig.
Gedurende daardie proses het dit my getref hoeveel mense in ons area desperaat op soek is na werk — mense wat net graag ’n kans wil hê. Ek wonder hoe dit moet voel om oor geld te stres net om te oorleef, om CV ná CV uit te stuur en dan te sit en wag vir dalk net ’n onderhoud?
En toe tref ’n ramp ons boonop nog. ’n Storm so sterk dat dit verskeie van Eskom se kragpale omwaai, en dorpe nou al meer as ’n week sonder krag en water is. Hier by my is daar darem krag, maar geen water nie — en dis erg genoeg!
Sondagoggend by die kerkdiens word daar toe afgekondig dat die kerk ’n boorgat het, en dat enigeiemand welkom is om daardie aand kanne water te gaan volmaak. Ek was eintlik glad nie verbaas om dit te hoor nie, maar dis nog altyd mooi om te sien hoe mense mekaar help. Daar word gereeld gevra vir klere, beddens, komberse en kos vir minderbevoorregtes — soos ek glo die kerk behoort te funksioneer, maak nie saak watter denominasie nie.
En terwyl ek dink aan hierdie mense sonder krag, water en werk, besef ek net weer hoe ongelooflik dankbaar ek vir die Here is vir hoe bevoorreg ek is. Ek weet Hy sal altyd vir my sorg, want ek is Sy kind, en in my 43 jaar het ek nog nooit brood op straat hoef te bedel nie.
So as jy vandag hierdie stukkie lees en dit roer jou hart net ’n bietjie — of jy nou die bevoorregte een is, of dalk die een in nood — dan los ek hierdie gedagtes by jou:
As dit binne jou vermoë is, help waar jy kan. Doen goed solank jy kan. Dit wat jy saai, sal jy maai. Help ander soos jy graag gehelp sou wou word as jy in hulle skoene was.
En as jy die een in nood is: moenie opgee nie. Hou aan probeer. Gaan op jou knieë, verneder jouself voor die Almagtige, en Hy sal jou op die regte tyd oprig.
Jesus vertel vir ons hoe God die voëltjies voed — hoeveel te meer sal Hy dan nie omsien na ons, wat soveel meer werd is in Sy oë nie?
Maar interessant genoeg: Hy gooi nie elke oggend wurmpies en saadjies in die voëltjies se neste nie. Nee, Hy het hulle geskape met snawels, vlerke en pootjies sodat hulle self kan uitgaan en gaan soek. Tog sorg Hy vir hulle.
God voorsien dikwels nie deur wonderwerke alleen nie, maar deur mense wat bereid is om mekaar se laste te dra.
Ps. 37:25 Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.





