Die sanger Ruhan du Toit het met sy nuwe enkelsnit, Bring Die Reën, ’n lied vrygestel wat fokus op die droogte, geloof en die hoop waarop boere en hul gesinne steun terwyl hulle vir reën wag.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê dié kragtige enkelsnit is veel meer as net ’n liedjie. Dit is ’n gebed vir reën in ’n
droogtegeteisterde Suid-Afrika en ’n musikale weerspieëling van die hoop en geloof waarmee boere elke dag voortgaan.
Du Toit sê die titel weerspieël die kernboodskap van die lied, wat deur Georic Lomas en Marco van Deventer geskryf is. “Ons bid vir reën en ons boere bid vir reën.”
Die lied fokus nie net op die droogte nie, maar ook op die uitdagings wat boere en hul gesinne ervaar. Volgens Du Toit speel die boervrou ’n belangrike rol wanneer ’n gesin moeilike omstandighede moet hanteer. Die musiekvideo vertel die verhaal van ’n boer en sy vrou wat te midde van droogte en onsekerheid aan hul geloof vashou. Akteurs Hanna Grobler en Frank Rautenbach, wat onlangs in die kykNET-dramareeks Beter As Gister te sien was, vertolk die hoofrolle in die video.
In die video verander die weer uiteindelik en begin dit reën – ’n beeld van hoop vir boere wat op verligting van droogte wag. Met Bring Die Reën wil Du Toit ’n boodskap van geloof en volharding oordra aan boere en almal wat saam met hulle deur moeilike tye gaan.
Kry Bring Die Reën hier op alle stromingsdienste.