GAUTENG. – Konst. Adriaan Norman Mackenzie, ‘n lid van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), en Etienne van der Walt, ‘n sakeman, se saak is vandag vir ‘n formele borgtogaansoek in die Johannesburg-landdroshof tot 16 Julie uitgestel.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê die twee is op 4 en 5 Julie in hegtenis geneem in verband met die beweerde onwettige klopjag op ‘n eiendom in Killarney, Johannesburg, in 2023, waartydens edelstene ter waarde van bykans R15 miljoen na bewering gesteel is. Volgens Suping is Mackenzie en Van der Walt twee van vyf verdagtes wat op aanklagte van korrupsie teregstaan. Opod beweer die EMPD-beamptes het ondersoeke buite hul regsgebied uitgevoer, terwyl ‘n lid van die Johannesburg Metropolisie (JMPD), wat in BBP-beskerming werk, glo geen ondersoekbevoegdheid gehad het nie. Van der Walt het hom volgens Opod tydens die klopjag as ‘n polisiebeampte voorgedoen. Die ondersoek het aanvanklik op ses verdagtes gefokus, maar een van hulle is intussen oorlede. Van die oorblywende vyf is drie lede van die EMPD, een ‘n lid van die Gauteng-verkeerspolisie en die vyfde Van der Walt. Suping sê Opod het die afgelope naweek drie lasbriewe vir inhegtenisneming probeer uitvoer, maar slegs twee verdagtes is aangekeer. Die derde verdagte is steeds op vrye voet, terwyl die inhegtenisneming van die twee oorblywende verdagtes na verwagting binnekort sal volg.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê die twee het op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en bedrog in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle op 11 Februarie 2023 ses bokse met hoëgraadse sugiliet- en mangaan-edelstene ter waarde van sowat R14,9 miljoen by ‘n perseel in Killarney, Johannesburg, geroof het. Volgens die staat is die klaer glo aangerand en met vuurwapens gedreig voordat die edelstene gevat is. Die staat voer verder aan dat Mackenzie, nog ‘n EMPD-beampte en hul burgerlike medebeskuldigde hulle valslik as lede van ‘n multidissiplinêre wetstoepassingspan, bestaande uit EMPD- en Valke-beamptes, voorgedoen het wat beweerde litiumsmokkelary ondersoek. Volgens die staat was die doel van die beweerde operasie om die klaer onregmatig van die edelstene te ontneem.
Albei beskuldigdes bly in aanhouding totdat hulle weer in die hof verskyn.





