Sakeliga teen voorgestelde regulasies oor kapitaalbeheer

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

Sakeliga het beswaar gemaak teen die Nasionale Tesourie se voorgestelde regulasies oor die bestuur van kapitaaluitvloei en waarsku dat dit die staat veel groter magte oor private eiendom kan gee.

Sakeliga sê die konsepregulasies, wat die huidige valutabeheerregulasies uit 1961 sal vervang, word voorgehou as ‘n manier om die wetgewing te moderniseer en ook kriptobates te reguleer. Die organisasie voer egter aan dat die voorstel veel verder strek en die staat die bevoegdheid kan gee om private bates te monitor, te deursoek, daarop beslag te lê en in sekere gevalle selfs die verkoop daarvan af te dwing.

Volgens Sakeliga is een van sy grootste besware dat die definisie van “kapitaal” só wyd omskryf word dat dit bykans enige bate met ‘n geldwaarde kan insluit. Die organisasie meen dit kan die staat se beheer oor private eiendom onnodig uitbrei. Sakeliga voer verder aan dat verskeie bepalings in die konsepregulasies grondwetlike regte op privaatheid en eiendom kan skend. Die organisasie is veral gekant teen bepalings wat staatsamptenare onder sekere omstandighede toegang tot kriptografiese sleutels kan gee en wat beslaglegging op bates sonder voorafgaande hofmagtiging moontlik maak.

Die sake-organisasie sê die voorgestelde regulasies bevat ook onduidelikhede, onder meer omdat belangrike geldwaardedrempels nog nie bekend gemaak is nie. Volgens Sakeliga maak dit dit moeilik vir die publiek om sinvol kommentaar te lewer. Die organisasie waarsku ook dat die voorgestelde strawwe buitensporig is en dat die regulasies die ekonomie en vertroue in die rand kan benadeel.

Druk hier om meer te lees.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief