Die sanger, Brendan Peyper, sê hy is tevrede dat redeliheid geseëvier het, nadat die applikant wat probeer het om hom gesekwestreer te kry op die nippertjie ‘n skikking aangebied het — net ure voor die saak in die hof sou voorkom.
Peyper het gesê die feit dat die applikant self ‘n skikking gesoek het, dui daarop dat hy onseker was oor die sterkte van sy saak. Die skikking is in ‘n hofbevel bevestig, maar die applikant behou die reg om die beweerde skuld later te probeer verhaal. Peyper het egter gesê hy gaan niks betaal nie omdat hy niks verskuldig is nie.
Hy het bygevoeg: “Ek is oortuig daarvan dat ’n bevoegde hof in my guns sal beslis indien die dispuut sou voortgaan. Van die staanspoor af is daar herhaaldelik deur my regsverteenwoordigers aan die applikant se regsverteenwoordiger gekommunikeer dat sekwestrasieverrigtinge nie die korrekte regsproses is nie. Ek het verskeie kere bevestig dat ek nie insolvent is nie en dat die skuld nie aan my behoort nie. Enige beweerde uitstaande bedrag, indien dit inderdaad bewys word, is reeds voldoende voorsien en lê tans by my prokureurs op trust. Ek is tevrede dat redelikheid uiteindelik geseëvier het en dat hierdie agter my is. God is groot. Groete Brendan.”





