Deur Deonette de Kock vir LiG
Stiaan Reynierse, ’n 41-jarige pa van vyf en ’n Pretoriase sanger, praat openlik oor die grondpad waarop hy sedert sy kinderdae geloop het. Hier is sy verhaal in sy eie woorde.
Ons het dit nie breed gehad nie. My ouers is geskei en ek het by my pa en my ouma grootgeword. My oupa was ’n boemelaar, maar ’n uitstekende musikant wat destyds ’n plaat vrygestel het. By hom, langs sy papsak wyn, het ek leer kitaar speel.
LEES OOK: ‘Ek is ’n alkoholis, maar die Here het ’n saak met my,’ sê Jaaco Rademeyer
Sypaadjies en koue stegies
Nadat ek graad 10 drie keer herhaal het, het ek die skool verlaat. Sedertdien verdien ek my brood as sanger. Ek het in kroeë gesing en dikwels sonder vergoeding opgetree. Alhoewel ek in die 1990’s en vroeë-2000’s op die land se grootste verhoë, by kunstefeeste en in teaters opgetree het, was die stad se sypaadjies en koue stegies ook soms my verhoog.
Ek het reeds op 16 begin drink. Almal in my familie drink. Drank het van my ’n robot gemaak. Dit het ’n verwoestende uitwerking op jou liggaam en gees, ’n sneeubal-effek. Jy voer die demone, en hoe meer jy hulle voer om van jou kleivoete te vergeet, hoe meer voel jy soos ’n mislukking.
My verhouding met my kinders het ten gronde gegaan. My beursie was dolleeg. My werk het minder geword. Wanneer jy drink, kry jou reputasie ’n knou, ongeag jou talent. Dan gaan jy maar terug kroeë en pubs toe waar almal ewe dronk is.
Soos enige ander dwelm was drank ’n susmiddel, wat my weggeneem het van die kraaines in my kop. Dit word ’n uitweg en ’n vlugplek, ver weg van jouself en van die werklikheid.
Depressie het my ook van jongs af beetgehad. Ek dink my depressie was die gevolg van ’n klomp dinge – verwerping, mislukkings, vals beloftes, die knaende wipplank van die musiekbedryf, swak keuses, dom besluite.
LEES OOK: Eens ’n dwelmverslaafde op straat; nou ’n berader vir verslaafdes
Hoewel ek antidepressante gebruik het, kon geen susmiddel of hoopgewer of berader my troos nie, ook nie eens liefde nie. Ek was moeg vir die lewe. Ek het twee keer ’n skietding teen my kop gehou. Die magasyn was elke keer vol, die veiligheidsknip af. Al twee kere het ek die sneller getrek – sonder dat die skoot afgegaan het. Dit was bonatuurlike ingryping.

My lewe was ’n verbeelde hemel
Die musiekwêreld is ’n wildernis. Ek was en is nog altyd ’n rocker. Van kleins af was my denkpatrone anders. Ek was altyd soekend. Dalk was verslawing ’n soort ontvlugting van die omstandighede in my kop.
Ek was 25 toe ek vir die eerste keer heroïen gebruik het. Ek was 30 toe ek die eerste naald in my arm gesteek het.
Wanneer jy “hoog” is, kan niks jou bykom nie. Jy is hoër as hartseer en pyn. Ek was bitter bang vir die werklikheid. My lewe was ’n verbeelde hemel en, terselfdertyd, ’n skrikwekkende hel.
Daar is so baie “horror-scenes” waarvan ek probeer vergeet. Die strate was bekend. My kitaar was my brood, my tempel en my god. Die brandewyn my vuur.
Een oggend het ek beneweld wakker geword in ’n McDonald’s-speeltonnel. My kitaar was weg! Dalk het ek dit vir dwelms verkoop of geruil. Ek onthou daardie verskriklike, godverlate oomblik. Want musiek was my redding.
LEES OOK: ‘Ek was ’n verslaafde wat wou sterf’
Ek was reeds in ’n hele klomp rehabilitasiesentrums. Geen mens kan vanself met dwelmmisbruik ophou nie. Maar ek het dit reggekry nadat ek sewe jaar lank aan heroïen verslaaf was. Dit was blote genade.
’n Jaar by Dozi
Maar ek kon nie die bottel los nie. Ek het tydens die Covid-19-pandemie ’n jaar lank by die bekende sanger Dozi gebly. Hy was soos die ouer broer wat ek nooit gehad het nie. My geld, my planne en my drome was op.
Dozi het my probeer help, maar ek het steeds skelm gedrink. Hy het my verstaan. Ons vriendskap is steeds baie sterk. Ons het die Koos du Plessis-liedjie “Sprokie vir ’n Stadskind” gesing en opgeneem.
Sowat ’n jaar gelede kon die dokter nie verstaan dat my lewer en niere ongeskonde is nie. My pankreas het wel harde houe gevat. En ses maande gelede, pas ná my verskyning op die kykNET-joernaalprogram Bravo, het ek ’n beroerte gehad. Ek kon nie praat nie.
Die pyn was ondraaglik. Ek het by die dood omgedraai. Maar ek het wonderbaarlik herstel. Die dokters het my gewaarsku dat ek nie lewendig anderkant sou uitkom en my kinders sien grootword as ek nie die drank los nie. Die keuse was maklik.
Vyf maande sober
Op 10 Mei was ek vyf maande sober. Elke liewe dag neem ek die besluit om nie te drink nie, want ’n druppel drank sal my einde beteken. Nou kies ek om te leef.
Ek is só dankbaar vir die vrou in my lewe. Sy het my deurentyd ondersteun en gehelp. Ek sou dit nie sonder haar kon regkry nie.
Deesdae sien ek klein wonderwerke vir die eerste keer raak. Ek proe die oorwinning. Dis asof die boeie en kettings om my hande en voete losgebreek het. Dit voel asof ek as oudste seun van my ouers, ná ’n helse drankstryd, besig is om die oeroue vloek te verbreek.
Die asem in my lyf sou te min wees as ek moes bieg en jammer sê oor al die verkeerde besluite in my lewe. Ek sukkel nog elke dag om myself te vergewe. Maar ek troos my daaraan dat die klein goedjies waaroor ek bid voor my oë waar word. Ek het ook die verhouding met my kinders herstel.
Ek het altyd gedink ek ken die Here. Maar hoe ouer jy word en hoe meer wonde jy opdoen, hoe meer besef jy hoe ver jy werklik van God is. Lank gelede het ek ’n verhouding met die kerk gehad, nie met God nie. Ek het oral die waarheid gaan soek en met leë hande teruggekeer.
LEES OOK: Apteker se drank- en dwelmstryd: ‘Ek het nooit gedink ek sou by ’n verkeerslig bedel nie’
Maar God het my laat sien dat mense vol foute is, ook ek. Hy het my daaraan herinner dat jy God by God moet soek en nie by mense nie.
Ek glo vas Jesus wil hê dat ons nie slegs volgelinge van Hom moet wees nie, maar ook leerlinge. Dat ons moet probeer leef soos Hy geleef het.

Musiek maak my bly
My getuienis sal deur my musiek kom. God is my alles. Sy liefde is ondeurgrondelik.
Binnekort sal ek ’n enkelsnit met die titel “Burning Demons” vrystel. Al red my musiek net een outjie uit die kake van verwoesting, sal ek my doel bereik. Deesdae is ek nogal uitsoekerig oor waar ek optree. Ek wil mense aanraak, dié wat die “straight and narrow” volg én dié wat iewers verdwaal het, soos ek.
Daar is nog baie enkelsnitte wat vrygestel moet word. Betekenisvolle musiek, nie bubblegum nie. Dit wat God my wil laat bereik, sal ek bereik.
Ek sal nooit ophou om my Godgegewe gawe te gebruik nie. Musiek maak my bly.
My toekoms is nie in my hande nie. Maar dié keer spring ek nie alleen oor ’n muur nie en loop ek nie ’n bende alleen storm nie. Want God is by my.
Ek skryf sommige van my liedjies self, maar dikwels ook in samewerking met ander. In die laaste album wat ek vrygestel het, het ek en die digter Francis Grobler saamgespan. Sy begryp my kop en hart.
Maar my grootste treffer moet ek nog skryf …
Nehemia Bybelinstituut (NBI) se Gevangenisbediening
NBI-Bybelkor is betrokke by ongeveer 228 tronke landwyd en stuur jaarliks duisende gratis kursusse aan tronke in Suid-Afrika. Daar is 19 programme beskikbaar vir gevangenes om NBI sertifikate te verwerf – gratis vir beide gevangenes en geestelike versorgers.
- Gevangenisbediening verskaf ook gratis pastorale sorgberading per korrespondensie aan gevangenes
- Daar is tans ses Lewensvaardighede programme beskikbaar om gratis af te laai op Missio
Verander Harte en Herstel Lewens
Maak HIER ’n donasie vandag!
Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





