WES-KAAP. – Die polisie het ’n interne ondersoek ingestel nadat ’n video op sosiale media versprei is waarin ’n polisiebeampte glo onvanpaste opmerkings in die gemeenskapsdienssentrum (GDS) van die Pacaltsdorp-polisiestasie gemaak het. Die voorval het kommer by polisiebestuur gewek en ’n senior polisiebeampte van die Tuinroetedistrik is aangestel om die ondersoek te lei.
AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê die SAPD beskou die beweerde opmerkings in ’n ernstige lig en het ’n geenverdraagsaamheidsbeleid teenoor onprofessionele en onvanpaste gedrag deur lede. Gepaste dissiplinêre stappe sal volg indien oortredings deur die ondersoek bevestig word.
Die polisie het nie verdere besonderhede oor die inhoud van die video of die identiteit van die betrokke beampte bekend gemaak nie.