GAUTENG. – Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (SAPU) in Gauteng sê hulle is diep geskok oor die dood van ’n luitenant-kolonel van Sunnyside-polisiekantoor. Die voorval hou moontlik verband met konflik tussen die beampte en sy stasiebevelvoerder. Die beampte, deur die Daily Sun as lt.kol. Masekela geïdentifiseer, het glo op 20 April aan sy eie hand by sy woning in Atterdigeville gesterf.
SAPU voer aan dat die voorval moontlik verband hou met beweerde teistering in die werkplek. Volgens die unie het die beampte, wat as ’n skofbevelvoerder gedien het, glo konflik met die stasiebevelvoerder ervaar voordat hy oorlede is. Die unie sê lede by die betrokke stasie is huiwerig om klagtes formeel aan te meld uit vrees vir viktimisering en beweer dat vorige klagtes nie ernstig opgeneem is nie.
SAPU het ’n beroep op lt.genl. Tommy Mthombeni, die provinsiale polisiekommissaris, gedoen om die omstandighede rakende die beampte se dood deeglik te ondersoek, asook bewerings van teistering binne die stasie. Verder vra die unie dat polisiebeamptes aangemoedig word om hul stem te laat hoor en beskikbare prosesse te gebruik om griewe aan te meld. SAPU doen ook ’n beroep op die owerhede om groter ondersteuning vir lede se geestesgesondheid te verseker en beklemtoon dat beamptes met waardigheid en respek behandel moet word.
Die Gauteng-polisie het intussen gesê hulle is bewus van bewerings van werkplek-afknouery wat glo verband hou met die tragiese dood van ’n lid. ’n Deeglike ondersoek is nou aan die gang om die omstandighede en moontlike bydraende faktore vas te stel. Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, woordvoerder vir die SAPD, sê die saak word ernstig opgeneem en dat alle nodige prosesse reeds ingestel is om die feite te bevestig. Sy doen ’n beroep op die publiek en media om nie te spekuleer of ongeverifieerde inligting te versprei nie, aangesien dit die ondersoek en betrokke partye kan benadeel.
Kol. Kweza, provinsiale polisiewoordvoerder, het intussen aan Nuusflits gesê betrokke lede is bewus van die toepaslike interne prosesse wat gevolg moet word. Die aangeleenthede wat lede raak, word as intern beskou en kan nie in die media bespreek word nie.
Lees meer oor die voorval hier onder in die verklaring deur SAPU. (Die SAPU-verklaring is Woensdag op sosiale media geplaas, met ‘n tikfout by die datum.)






