INTERNASIONAAL. – ’n Reddingsbaadjie wat deur ’n oorlewende van die RMS Titanic-ramp gedra is, gaan dié naweek opgeveil word in wat as ’n “een-in-’n-leeftyd”-geleentheid beskryf word.
Volgens berigte deur Global News is die 114 jaar oue kledingstuk deur Laura Mabel Francatelli gedra. Dit is laas in 2007 by ’n veiling deur Christie’s in Londen vir £50 000 verkoop.
Die baadjie, wat nou weer deur die Britse veilingshuis Henry Aldridge & Son opgeveil word, kan na verwagting tussen £250 000 en £350 000 haal. Dit is R6 tot R8.5 miljoen. Volgens die veilinghuis is dit die enigste bekende reddingsbaadjie van ’n Titanic-oorlewende wat nog ooit op die mark verskyn het.
Francatelli was ’n eersteklaspassasier aan boord van die RMS Titanic, wat hierdie week 114 jaar gelede gesink het.
Die Titanic, wat as “onsinkbaar” beskou is, het op 10 April 1912 vertrek. Net vier dae later het die eerste vaart in ’n internasionale ramp ontaard toe dit op 14 April om 23:40 teen ’n ysberg in die Noord-Atlantiese Oseaan gebots het. Die skip het binne minder as drie uur gesink, en daar was nie genoeg reddingsbote vir die sowat 2 220 mense aan boord nie. Slegs ongeveer 700 mense het die ramp oorleef.
Bronne: CNN, Global News





