Ses Nigeriese burgers wat daarvan beskuldig word dat hulle meer as 100 vroue in die Verenigde State deur aanlyn-liefdesbedrog uit meer as R100 miljoen bedrieg het, word vandag aan Amerikaanse owerhede uitgelewer.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê die mans word daarvan beskuldig dat hulle lede van die Black Axe-georganiseerde misdaadnetwerk is en word in die VSA gesoek op aanklagte van elektroniese bedrog en geldwassery. Pensioenarisse en sakelui is onder die beweerde slagoffers in wat deur aanlyn-verhoudings geteiken is om hulle van hul geld te beroof.
Die ses is in 2021 in Suid-Afrika in hegtenis geneem tydens ’n groot operasie deur die Valke. Die mans sal vanaf ’n korrektiewe fasiliteit in Kaapstad na Kaapstad Internasionale Lughawe vervoer word, waar hulle na verwagting vanmiddag deur Interpol SA aan beamptes van die FBI en die Amerikaanse geheime diens oorhandig sal word.