Ses verdagtes is in hegtenis geneem en 21 strafdossiere is tydens die spesiale stemtydperk vir die 2026- plaaslike regeringsverkiesing geregistreer. Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) het Dinsdagaand bevestig dat veiligheidsmaatreëls landwyd verskerp is om te verseker dat kiesers Woensdag hul stem in ’n veilige omgewing kan uitbring.
Lt.genl. Tebello Mosikili, medevoorsitter van Natjoints, het tydens die mediakonferensie gesê die 21 sake sluit onder meer moord, diefstal van verkiesingsmateriaal, brandstigting, intimidasie en die beskadiging van verkiesingsmateriaal in. Vyf van die sake is reeds hof toe verwys. Twee verdagtes is in Ingcobo in die Oos-Kaap in hegtenis geneem omdat hulle hulle na bewering as OVK-amptenare voorgedoen het. Ander arrestasies sluit in een verdagte vir die vernietiging van verkiesingsmateriaal in Mmametlake en een vir opsetlike saakbeskadiging in Pienaar, albei in Mpumalanga, asook een verdagte wat daarvan beskuldig word dat hy ’n foto van ’n stembrief in Christiana, Noordwes, geneem het.
Natjoints het ook sy kommer uitgespreek oor die moord op ’n streeksleier van die MK-party in KwaZulu-Natal. Die politieke moorde-taakspan ondersteun die ondersoek. Die dood van ’n OVK-voorsittende beampte by Buhrmansdrift in die Ngaka Modiri Molema-distrik in Noordwes word ook deur die polisie ondersoek. Die oorsaak van sy of haar dood is nog nie vasgestel nie. Die betrokke stemlokaal sou Woensdag steeds vir stemmery beskikbaar wees.
Mosikili het gewaarsku dat geen verkiesingsveldtogte, politieke beïnvloeding of intimidasie by of naby stemlokale op verkiesingsdag toegelaat word nie. Betogings op verkiesingsdag word eweneens verbied en oortreders kan ingevolge toepaslike wetgewing vervolg word. Die veldtogtydperk het om middernag tot ’n einde gekom.
Natjoints en die nege provinsiale gesamentlike operasionele strukture (Provjoints) bly ten volle geaktiveer. Genoegsame polisie- en veiligheidsmagte is ontplooi, met bykomende aandag aan gebiede wat deur intelligensie as moontlike brandpunte geïdentifiseer is. Reëlings is ook getref om te verseker dat noodsaaklike dienste, waaronder water en elektrisiteit, by stemlokale beskikbaar bly. Die publiek word versoek om kalm te bly, nie verkeerde inligting te versprei nie en ander se demokratiese reg om te stem, te respekteer.