GAUTENG. – Ses mans is Dinsdag omstreeks 11:20 tydens ‘n operasie in Primrose op aanklagte van die besit van dwelms, kruit en ‘n vuurwapen in hegtenis geneem. Die operasie is deur die Ekurhuleni-metropolisie en Bronberg se spesiale operasionele beamptes, in samewerking met ander rolspelers geloods.
Die EMPD sê in ‘n sosialemediaplasing inligting oor ‘n man wat moontlik met dwelms handel dryf, is ontvang. Vyf mans is op die toneel aangetref. Tydens deursoeking is daar glo 134 volle en drie halwe Mandrax-tablette gevind. Een van die vyf mans is ook glo met kruit betrap. Hy het aan beamptes gesê die kruit behoort nie aan hom nie en dat hy hulle na die eienaar sal neem. Nog ‘n verdagte is by ‘n adres in Marlandsstraat aangetref. Tydens deursoeking is hy in besit van ’n ongeregistreerde pistool gevind.
Die verdagtes is in hegtenis geneem en by Primrose-polisiekantoor aangehou.





