MPUMALANGA. – Moeketsi Baadjie (10) het Sondag omstreeks 15:30 in die Kwena-dam verdrink tydens ‘n hengeluitstappie met sy gesin. Die Lydenburg-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
Luidens ‘n verklaring van lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, was die seun reeds deur paramedici dood verklaar met die polisie se aankoms op die toneel. Dipolelo Baadjie, die oorledene se ma, het aan die polisie gesê die gesin was by die dam om te hengel en te ontspan. Die kinders het glo naby die water gespeel toe sy hulle om hulp hoor skree. Die kinders se pa kon een van hulle red, maar hy kon nie betyds vir Moeketsi red nie. Duikers van die Lydenburg- en Witrivier-polisie-honde-eenhede het Moeketsi se liggaam omstreeks 17:30 uit die dam gehaal.
Ndubane sê die polisie doen ‘n beroep op die publiek om waaksaam in die feestyd te bly, kinders fyn dop te hou naby water en om nie alkohol te gebruik wanneer riviere en damme besoek word nie. Verdrinkings kom meer in dié tyd voor, waarvan baie deur versigtigheid en bewusmaking voorkom kan word.





