MPUMALANGA – Die polisie het Woensdag ná inligting van ’n plaaslike skool dat leerlinge glo vape-pype met dagga besit en tydens eksamengebruik het, twee werknemers van ’n winkel in Witrivier op aanklagte van dwelmhandel in hegtenis geneem.
Luidens ‘n verklaring deur kapt. Mpho Nonyane-Mpe, polisiewoordvoerder, het die voorval aan die lig gekom toe leerlinge glo by die skool met vape-pype wat dagga bevat, betrap is. Dit het tot verlies van fokus tydens die eksamen en vreemde gedrag gelei.
Maandag is ’n vergadering gehou om die inligting te verifieer en ’n plan van aksie in te stel. ‘n Saak is by die Witrivier K9-eenheid aangemeld. Polisiebeamptes van dié eenheid en die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid het onder ‘n dekmantel dagga by die winkel gekoop en ’n huisbesoek uitgevoer, wat die inhegtenisnemings tot gevolg gehad het. ’n Groot hoeveelheid daggaprodukte is in beslag geneem, insluitend lekkers, sap, vape-sap, dagga, potplante, suigstokkies, sjokolade en koeldrank – met ’n geskatte waarde van R2,3 miljoen.
Die winkel, geleë te Williamstraat 21, het eers op 1 November geopen, slegs enkele dae voor die ondersoek geloods is. Die verdagtes sal na verwagting vandag op aanklagte in die Witrivier-landdroshof verskyn.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die skool vir die aanmelding geprys en doen ’n beroep op die gemeenskap om saam te werk om ’n veilige en dwelmvrye omgewing vir kinders te skep.





