‘n Voormalige polisiekonstabel (42), voorheen gestasioneer by Groblersdal-polisiekantoor, is deur die Middelburg-hooggeregshof tronkstraf opgelê. Sy is skuldig bevind en gevonnis vir die seksuele aanranding van haar minderjarige seun (12) gedurende 2020. Die naam van die beskuldigde word nie bekend gemaak nie om die identiteit en waardigheid van die kind te beskerm.
Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder, sê die ma is aan seksuele aanranding, vervaardiging van kinderpornografie en die besit van kinderpornografie skuldig bevind. Vir seksuele aanranding is sy tot 10 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan twee jaar opgeskort is vir vyf jaar, mits sy nie gedurende daardie tyd weer skuldig bevind word aan seksuele aanranding nie. Vir die vervaardiging en besit van kinderpornografie is sy elk tot twee jaar gevonnis. Omdat die vonnisse gelyktydig loop, beteken dit effektiewe tronkstraf van agt jaar. Sy is ook as ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Volgens hofverslae het die beskuldigde persoonlike probleme ervaar en hulp by ’n tradisionele geneser gesoek. Die geneser het haar beveel om haar seun met tradisionele medisyne te bad en seksuele handelinge met hom na te boots, as deel van ’n ritueel om bose geeste te verwyder. Sy moes die voorval op haar selfoon opneem en aan die geneser stuur. Hy het gedreig om die video openbaar te maak as sy hom nie geld gee nie. In 2023 het sy kennis gekry dat ’n kriminele saak geopen is toe die video op sosiale media opgeduik het.
Die beskuldigde het skuldig gepleit en ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat aangegaan. Sy het verklaar dat sy nie regtig seksuele omgang met haar seun gehad het nie, maar die handelinge soos deur die geneser voorgeskryf, nageboots het.
Die hof het in die versagting van vonnis in ag geneem dat sy skuldig gepleit, saam met die polisie gewerk, haarself oorgegee het, ’n volle erkentenis gemaak het en reeds twee jaar in aanhouding was terwyl sy op haar verhoor gewag het. Die staat het egter die erns van die misdade beklemtoon, veral die verbreek van vertroue tussen ’n moeder en haar kind en die noodsaaklikheid om kinders teen seksuele misbruik en uitbuiting te beskerm.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het die vonnis verwelkom.





