KWAZULU-NATAL. – ’n Hoërskoolseun is Dinsdagoggend dood nadat hy glo tydens ’n fisieke bakleiery met ’n ander leerling teen die kop geslaan is.
Samantha Meyrick van IPSS Medical Rescue sê die diens is na die skool in die Isithebe-gebied ontbied, nadat berig is dat die seun ná die bakleiery bewusteloos was. Die seun het volgens paramedici aan sy beserings beswyk en is met hul aankoms op die toneel dood verklaar.
Die toneel is aan die plaaslike polisie oorhandig, wat die omstandighede van die voorval verder sal ondersoek.





