KWAZULU-NATAL. – Nick Evans, slangvanger, en sy kollega Carla, het onlangs ‘n dringende oproep ontvang. ‘n Gesin in Luganda, naby Mariannhill, het ‘n groot slang hul slaapkamer sien inkom wat as ‘n swart mamba beskryf is.
Evans sê in ‘n sosiale-mediaplasing hulle het oor ‘n rotsagtige paadjie na die huis gery, die gesin ontmoet en is toe die kamer in op soek na die “swart mamba”. Hulle is dadelik getref deur die reuk van Jeyes-vloeistof, ‘n giftige dreinreiniger wat mense dikwels verkeerdelik gebruik om slange mee te verdryf. Die huiseienaar het hulle egter verseker dat niemand enige vloeistof op die slang gegooi het nie. Die gesin het die slang dopgehou, die deur toegemaak en gewag – presies wat Evans van mense vra. Ná sowat ‘n uur se deeglike soektog deur ‘n kamer vol meubels en goed, het die span die soektog gestaak. Hulle het aanvaar dat die slang deur die dak ontsnap het. Vyf minute later het die telefoon gelui: “Hy’s hier! Hy’s in die bed!”
Terug by die huis, het Carla die slang gesien. Dit was nie ‘n swart mamba nie, maar ‘n ongeveer 80 cm lange Mosambiekse spoegkobra – een van die gevaarlikste slange om in ‘n bed aan te tref, aangesien dit juis daar is waar hierdie spesie jaarliks talle mense in Suid-Afrika pik. Die kobra het agter ‘n bed en ‘n kas ingeglip, maar Carla – sonder ‘n beskermbril of ‘n skerm, maar met ‘n geleende sonbril – het ta behendig met ‘n Afrikaslangbyt-instituut se nuwe Elite Slangtang gevang en in ‘n emmer geplaas.
Evans skryf die sukses grootliks toe aan die gesin se kalm en ingeligte optrede. “Dit maak nie saak wat jou agtergrond of kultuur is nie — enigeen kan ‘n bietjie oor slange leer om jouself én die slang te beskerm,” sê hy. Die nagtelike avontuur het kort voor middernag geëindig toe die slangvangers tuisgekom het.
Mense wat hulp met slange benodig, kan Evans by 072 809 5806 of hom e-pos by [email protected].






