Brekende Nuus
Nuus

Só stap boer ná aanval uit die hospitaal

Foto: Skermgreep van video-opname Steyn du Toit Ing.

NOORDWES. – Donovan Marx (50) is Donderdagmiddag uit Mediclinic Potchefstroom ontslaan nadat hy langer as twee weke behandeling ontvang het vir ernstige beserings wat hy op 28 Oktober in ’n plaasaanval opgedoen het. Marx is tydens die aanval op sy plaas Syferfontein, tussen Ventersdorp en Potchefstroom, geskiet, gesteek en sy ore is afgesny. Familie en vriende het hom met die lied Met die krag van God ingewag toe hy die hospitaal verlaat.

Steyn du Toit Ing., die egpaar se regsverteenwoordigers, sê Donovan en Louise Marx het die mediese personeel en almal wat hulle ondersteun het, bedank. Die egpaar sê hy het nog ’n lang herstelpad voor hom en vra dat mense vir hulle en vir Vrydag se hofverrigtinge bid. 

Phindile Alex Namnagcayi (27), Mathaka Godfrey Mathipa (56), Makema Jan Maishane (53) en Thomas Thabo Mathlongtlong het op 3 November in die Ventersdorp-landdroshof verskyn op aanklagte wat onder meer poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie insluit. Die staat staan borgtog teen. Die vier sal na verwagting vandag vir verdere borgtogverrigtinge terugkeer.

Lees die volledige verklaring hier onder:

Uitgereik namens Donovan en Louise Marx

DONOVAN MARX UIT HOSPITAAL ONTSLAAN – “ALLE EER AAN GOD!”

‘n Besonder emosionele en betekenisvolle oomblik het hom vanmiddag afgespeel toe Donovan Marx, wat op 28 Oktober 2026 tydens ‘n wrede plaasaanval in die Ventersdorp-omgewing ernstig beseer is, uit Mediclinic Potchefstroom ontslaan is.

Ná meer as twee weke van intensiewe mediese behandeling en ‘n moeilike herstelproses kon Donovan vandag die hospitaal verlaat — ‘n besondere mylpaal waarvoor hy, sy vrou Louise en hulle familie diep dankbaar is.

Hoewel Donovan steeds ‘n lang herstelpad voor hom het, beskou die familie sy ontslag as ‘n simboliese en betekenisvolle verdere tree op die pad na genesing.

‘n OOMBLIK VAN GELOOF, HOOP EN LOFPRYSING

Met sy ontslag is Donovan deur naaste familie en vriende ingewag, wat hom met die betekenisvolle lied “Met die krag van God” (oorspronklik gesing deur Arnold de Wet) verwelkom het.

Dit was ‘n aangrypende, emosionele en kragtige oomblik van lofprysing — een wat die familie nie maklik sal vergeet nie.

Waar daar net meer as twee weke gelede groot onsekerheid oor Donovan se lewe en toekoms geheers het, kon sy geliefdes vandag saam met hom staan en God dank vir die genade van sy voortgesette herstel.

Vir Donovan en Louise was dit ‘n tasbare herinnering aan die krag van geloof, die liefde van familie en vriende en die gebede van duisende Suid-Afrikaners.

“ALLE EER AAN GOD!”

Donovan en Louise spreek opnuut hul opregte dankbaarheid uit teenoor die mediese personeel wat hom met soveel kundigheid, deernis en toewyding versorg het, asook elke Suid-Afrikaner wat hulle sedert die aanval ondersteun en in gebed gedra het.

Hulle het egter ‘n besondere versoek:

“Suid-Afrika, moet asseblief nie ophou om vir ons te bid nie. Ons is ongelooflik dankbaar vir hoe ver die Here ons reeds gebring het, maar daar lê nog ‘n lang herstelpad voor. Ons het steeds julle gebede nodig. Alle eer aan God vir Sy groot genade!”

GEBEDE VIR VRYDAG SE HOFVERRIGTINGE

Die familie versoek ook dat Suid-Afrikaners spesiaal sal bid vir die hofverrigtinge wat môre, Vrydag 13 November 2026, in die Ventersdorp-landdroshof sal plaasvind.

Die vier beskuldigdes wat in verband met die aanval op Donovan aangekla is, sal na verwagting weer verskyn vir verdere verrigtinge rakende borgtog.

Die familie vra vir wysheid en leiding vir die ondersoekspan, die vervolgingsgesag en die hof, en vertrou dat die regsproses sy behoorlike verloop sal neem.

Vandag kies Donovan en Louise om nie op die trauma van die verlede te fokus nie, maar op die genade van die hede en die hoop vir die toekoms.

Hulle boodskap aan Suid-Afrika bly eenvoudig:

“Dankie vir elke gebed. Dankie vir elke boodskap van liefde. Dankie dat julle saam met ons staan. Bo alles – alle eer, lof en dank aan ons Hemelse Vader!”

UITGEREIK DEUR:

Steyn du Toit Ing.