Motoriste wat oor die Paasnaweek op die pad gaan wees, word aangeraai om betyds seker te maak dat hul voertuiglisensieskyfies en bestuurslisensiekaarte geldig is. Deur dit nou reeds te hernu, kan lang toue, boetes en onnodige vertragings vermy word.
Die padverkeersbestuurskorporasie sê in ‘n verklaring die National Traffic Information System (NaTIS)-stelsel toon dat 700 399 voertuiglisensieskyfies teen die einde van Maart verval. Die meeste hiervan is in Gauteng (259 563), gevolg deur die Wes-Kaap (116 633) en KwaZulu-Natal (98 735). Mpumalanga het 51 198, Limpopo 45 240, die Oos-Kaap 44 840, Noordwes 36 335, die Vrystaat 31 964 en die Noord-Kaap 15 891. Verder verval 128 080 bestuurslisensiekaarte in dieselfde tydperk. Gauteng het die hoogste getal met 44 142, gevolg deur KwaZulu-Natal (20 188) en die Wes-Kaap (17 108). Die res is versprei tussen Mpumalanga, Limpopo, die Oos-Kaap, Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap.
Voertuiglisensieskyfies kan aanlyn via die NaTIS-platform hernu word en word gewoonlik binne drie tot vyf werksdae afgelewer. Sedert die aanlyn stelsel in 2022 ingestel is, is miljoene hernuwings reeds op dié manier verwerk. Bestuurders in Gauteng, asook in Gqeberha en Kariega in die Oos-Kaap, kan ook aanlyn ’n tydgleuf bespreek om hul bestuurslisensiekaarte te hernu. In ander provinsies moet bestuurders hul naaste lisensiekantoor besoek.





