WES-KAAP. – Twee swemmers is Saterdag by Clovelly-strand gered, nadat hulle in nood beland het. Hulle is deur die Fish Hoek Surf Lifesaving Club en ‘n lewensredder van Stad Kaapstad gehelp.
Luidens ‘n sosialemediaplasing van die Fish Hoek Surf Lifesaving Club het lede van die Charlie-groep, Jaco Barnard, saam met Nigel Carelse en Braedon Powell, ’n dubbele redding uitgevoer en die twee persone veilig aan wal gebring. “Die swemmers was in die gevaarlike branders vasgevang, wat ’n onmiddellike ingryping genoodsaak het,” het Barnard gesê.
Matthew Busse, ‘n lewensredder van Stad Kaapstad, het daarna mediese bystand verleen deur suurstof te voorsien en ’n ondersoek op die swemmers te doen. Die swemmers is aangeraai om vir verdere waarneming hospitaal toe te gaan om moontlike komplikasies ná waterinaseming uit te sluit.





