Brekende Nuus
Natuurlewe

Spesiale koperpakke help beseerde pikkewyne met herstel

Foto ter illustrasie: Canva

SUID-AMERIKA. – Navorsers in Chili het ’n unieke pak van koper en sink vir beseerde pikkewyne ontwerp wat hulle ná beserings help herstel.

ABC News berig die pakke is vir Humboldt-pikkewyne gemaak wat dikwels beseer word wanneer hulle in visnette vasval. Dit word dan ná operasies gedra om die wonde te beskerm.

Volgens Phys.org  gebruik veeartse al jare lank soortgelyke pakke vir honde en katte. Die stof bevat mikroskopiese deeltjies van koper en sink wat in die materiaal ingeweef is. Dit voorkom die groei van bakterieë en swamme. Sink help ook om nuwe bloedvate te vorm, wat die genesing bespoedig.

Pikkewyne het baie buigsame nekke en kan derhalwe maklik aan hul wonde krap en hegtings uittrek. Die pak keer dat hulle die wonde aan hul liggame kan bykom.

Die pakke is op vyf pikkewyne by die Humboldt-bewaringsentrum in Coquimbo getoets. Vier se wonde is waarskynlik deur mensgemaakte faktore veroorsaak, soos die verstrikking in visnette.

Die projek is ’n samewerkingsprojek tussen die Humboldt-bewaringsentrum, die Katolieke Universiteit van die Noorde en die tekstielmaatskappy Kimba Vet. Die Buin-dieretuin naby Santiago het ook gehelp deur pikkewyne se afmetings vir die eerste pakke te neem.

Humboldt-pikkewyne se getalle het onlangs skerp gedaal. Navorsing tussen 2024 en 2025 het ’n afname van 63 persent in aktiewe neste getoon, in vergelyking met drie jaar tevore.

Bronne: ABC News, NewsNation, Phys.org