Die pragtige wynstreek net buite Hermans, die Hemel-en-Aarde vallei is net een van die Overberg streek in die Wes-Kaap se prentjiemooi juwele. Dit is hier waar Spookfontein geleë is. Spookfontein se eerste wingerde is in 1999 geplant. Met hierdie stap het eerste generasie wynliefhebbers en eienaars Mike en Amanda Davis die grondslag gelê vir bekroonde wyne, ’n verukklike omgewing, ’n uitsonderlike eetervaring, en ’n ontspanne, verwelkomende atmosfeer.
Om te dwaal in hierdie vallei, wat letterlik “Hemel en Aarde” beteken, bring ’n gevoel van harmonie tussen mens en natuur tuis. Die natuurskoon is asemrowend, bied ’n rustige plattelandse atmosfeer, kunsroetes, boetiek-kelders, en uitsonderlike restaurante. Dié gebied is wêreldbekend vir sy koel klimaat en uitstekende grondtoestande, wat ideaal is vir die verbouing van wynkultivars soos Pinot Noir en Chardonnay. Van Suid-Afrika se mees gesogte wynplase en wynmakers is hier geleë, en die wyne van die streek geniet internasionale erkenning.
By Spookfontein het die natuur ’n perfekte prentjie geskilder.



Die Spook van Spookfontein
Die storie van Spookfontein se spook spruit uit die legende dat ’n gees homself openbaar in die plaas se natuurlike fontein. Gedurende die wintermaande hang daar dikwels mis oor die water wat saam met die wind dryf en bydra tot die misterie wat die legende omring. Die kunswerk op die etiket van die Spookfontein Little Ghost beeld dié legende perfek uit.
Saans sak die duisternis toe oor Spookfontein soos ’n fluweelgordyn en wanneer die eikebome in harmonie met die dwaalwind fluister, kan jy amper hoor hoe die aarde onder jou asemhaal. In die donkerte van die nag raak die skaduwees een met die stilte en dit voel asof ’n misterie ontwaak. Wanneer die dwaler gelukkig genoeg is om ‘n stormagtige winternag op Spookfontein te ervaar word die hemelruim verlig deur donderweer en voel dit asof Spookfontein se spook nie meer net ’n legende is nie. Op só ’n nag ruik aarde na nat grond en die donderweer raak die natuur se stem.



Spookfontein se dinamika
Die Spookfontein-span is ’n klein, hegte eenheid, verduidelik Algemene Bestuurder James le Roux. Le Roux is al nege jaar by Spookfontein en is, “in die bevoorregte posisie” om op die plaas te woon. Hy sê verder dat die hele span in staat is om al die bedrywighede op die plaas te hanteer. Le Roux beklemtoon dat elke lid van die Spookfontein-span toegewyd is aan hul ambag. Dié toewyding blyk duidelik uit die eindproduk en diens wat hulle lewer.
Wynmaker Jeanne Pienaar het vroeg in 2025 by die Spookfontein span aangesluit.
Spookfonein bied nie net uithalter wyne nie, maar ook ’n uitsonderlike restaurant, ’n proelokaal wat deur Le Roux as hulle trots beskryf word en twee akkommodasie eenhede. Hier word die dwaler word met ope arms verwelkom en bou maklik heerlike herinneringe.
Die fasinerende gebou van die proelokaal en die restaurant, ’n unieke argitektoniese ontwerp, asook die dekor, is die breinkind van die Ghost Fountain-ontwerpspan. Die ontwerp is ’n treffende kombinasie van kontemporêre en natuurlike materiale. Gebogene lyne herhaal die golwende heuwels van die Hemel-en-Aarde-vallei. Die glasvensters wat die restaurant omring bied ’n panoramiese uitsig van onskatbare waarde oor die wingerde en berge. Die proelokaal se ruimte is aards en’n sentrale dakvenster vul die ruimte met natuurlike lig. Albei geboue is in harmonie met die natuur en dra Spookfontein se filosofie uit van ’n eerlike en sielvolle verbintenis met die natuur.
Le Roux verduidelik dat Spookfontein op natuurlike besproeiing staatmaak en slegs hoogstens twee keer per jaar van kunsmatige besproeiing gebruik maak.
Hemel-en-Aarde Ontsnap
Dwaal gerus in die Hemel-en-Aarde vallei rond, geniet ’n heerlike middagete vergesel met jou gunsteling Spookfontein-kultivar terwyl jy die asemrowende uitsig waardeer. Rond dit af met verblyf in een van die twee kothuise waar Spookfontein jou nooi om stadiger te beweeg en in die oomblik te leef. Versteek tussen ’n oorvloed bome, golwende wingerde en die majestueuse Overberg-berge, bied die Sunbird- en Blue Crane-kothuise in ware plattelandsstyl-dekor, ’n rustige toevlugsoord op ’n wynplaas.
Die twee kothuise is selfversorgend en het ’n rustieke bekoring met genoeg moderne geriewe. Elke kothuis beskik oor ’n ten volle toegeruste kombuis. Met ’n kombinasie van eenvoud en gerief kan die dwaler verseker wees van ’n rustige, dog gemaklike wegbreek.
Die Sunbird-kothuis is die groot ou dame van die landgoed. Oorspronklik ’n werkershuis, is dit met liefde herstel en ’n vars nuwe voorkoms gegee om gaste te verwelkom. In haar voetspore het die Blue Crane-kothuis gevolg. Albei kothuise weerspieël dieselfde oorspronklike styl, gevoel en voorkoms, met moderne geriewe en ruim binne. Hulle het elk twee en-suite-slaapkamers en ’n gesellige kaggel vir die kouer maande. Die Blue Crane-kothuis het ’n kleiner stoep, maar ’n groter kaggelarea. Dit is ideaal vir die solo-reisiger, vriende, paartjies of ’n klein gesin.
Le Roux wou nie te veel verklap nie, maar sy glimlag dui op die moontlikheid van meer akkommodasie fasiliteite wat by die Sunbird- en Blue Crane kothuise mag aansluit.


Spookfontein wyn
Elke bottel Spookfontein-wyn is ’n harmonie van smaak, vakmanskap en ’n wynportefeulje wat die unieke karakter van leeke oesjaar na vore bring.
Van ’n gebalanseerde Pinot Noir (die skrywer se gunsteling!), wat ook Spookfontein se kenmerkende kultivar is, tot ’n verfrissende Rosé, die meer robuuste, karaktervolle Phantom en die maklik drinkbare Little Ghost Red, Spookfontein bied met trots iets vir elke palet. Le Roux verduidelik dat die Little Ghost Red ’n ideale begin is vir ’n persoon nuut tot rooiwyn. Spookfontein se Phnantom
Met ’n ryke versameling toekennings het Spookfontein-wyne hul plek tussen Suid-Afrika se beste gevestig. Met ’n 4.5-ster gradering in die Platter’s Wine Guide, ’n Dubbel Goud by Rosé Rocks, erkenning van Tim Atkin, en Goud- en Bronsmedaljes van Veritas, kompeteer Spookfontein gemaklik met die res van die bekende name in die vallei wat die plaas omring.

Ter afsluiting
Vir die dwaler op soek na uitsonderlike wyne, gehaltekos, rus en naturrskoon, bied Spookfontein se 313 hekaar landgoed moeiteloos ’n ontmoeting tussen grootsheid en die rustige bekoring van lewe op ’n plaas. Van die kelder tot by die restaurant, bied elke hoek van die plaas ’n asemrowende uitsig.
Dwaal vir ’n lang middagete, ’n naweek-wegbreek, of ’n glas Pinot met ’n uitsig, Spookfontein nooi jou uit om stadiger te leef, die oomblik te geniet, en deel te word van die storie.
Waar rookstroompies saggies opstyg en ’n stil vuurtjie smeul, wag stories om ontdek te word. Dít is Spookfontein. https://www.spookfontein.co.za/

Dwaal-groete
Annette
Annette




