Brekende Nuus
Rugby

Springbokke moet op hul beste wees teen Italië, sê Stick

Die Springbokke kan Italië nie onderskat nie, waarsku Mzwandile Stick voor Saterdag se Nations Championship-wedstryd in Turyn. Capuozzo is wêreldklas, sê hy.

Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick en kaptein Siya Kolisi tydens ’n mediakonferensie voor die toets teen Italië in Turyn
Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick en kaptein Siya Kolisi tydens ’n mediakonferensie voor die toets teen Italië in Turyn. Foto: Verskaf

Die Springbokke kan nie bekostig om Italië te onderskat wanneer die spanne Saterdag in Turyn in hul eerste wedstryd van die Nations Championship se noordelike reeks ontmoet nie.

Volgens die Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick is ’n goeie begin noodsaaklik vir die wêreldkampioene, wat later op hul toer ook teen Frankryk en Ierland te staan kom.

Die wedstryd teen Italië word Saterdag om 13:40 Suid-Afrikaanse tyd in die Allianz-stadion gespeel en regstreeks op SuperSport uitgesaai.

“Vir ons is die begin baie belangrik. Almal wil in die eindstryd speel,” het Stick Vrydag gesê.

“Ons speel teen Italië in Turyn, waar ons verlede jaar ook gespeel het. Die skare se energie is ongelooflik. Dit is altyd moeilik om hulle op hul tuisveld te speel, so ons moet seker maak ons is op ons beste.”

Springbokke teen Italië: Capuozzo ’n bedreiging

Die Springbokke is hoër as Italië op die wêreldranglys geplaas, maar Stick verwag steeds ’n moeilike wedstryd. Die Italianers sal onder meer sonder die beseerde Juan Ignacio Brex en Tommaso Menoncello moet klaarkom.

Hy het egter gewaarsku dat spelers soos die agterspeler Ange Capuozzo, vleuel Monty Ioane en losskakel Paolo Garbisi steeds ’n bedreiging inhou.

“Capuozzo is wêreldklas en waarskynlik een van die beste buite-agterspelers ter wêreld. As jy hom ruimte en tyd gee, sal hy jou straf,” het Stick gesê.

Kolisi: Eerste doelwit is om te wen

Springbokkaptein Siya Kolisi, wat Saterdag sy 108ste toets gaan speel, het gesê die span is opgewonde om weer saam te wees ná hul laaste toets teen Australië in September.

“Ons het goed geoefen, ons is voorbereid en ons kan nie wag vir die wedstryd nie,” het hy gesê.

Die Springbokke en Nieu-Seeland is elk op 15 punte in die suidelike halfrond se puntelys, maar Kolisi het gesê sy span se eerste doelwit is om Italië te klop.

“Ons wil net wen. Die eerste ding is om die oorwinning te behaal. As ons dan ’n voorsprong opbou, kan ons vir die bonuspunt gaan,” het hy gesê.

Die eindnaweek van die kompetisie vind van 27 tot 29 November plaas.