Brekende Nuus
Nuus

Man kry 3 lewenslange vonnisse vir 119 misdrywe teen kinders

Foto: NVG

VRYSTAAT. – Christiaan Francisco Fortleza van der Linde (37) is in die Welkom-streekhof tot drie lewenslange gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op 119 aanklagte wat verband hou met die seksuele misbruik en uitbuiting van drie minderjarige kinders. Hy is skuldig bevind aan onder meer verkragting, mensehandel, seksuele aanranding, ontvoering en misdrywe rakende kinderpornografie. Die misdade het oor ’n tydperk van 2015 tot 2024 plaasgevind.

Mojalefa Senokoatsane, NVG-streekwoordvoerder, sê die hof het twee lewenslange vonnisse vir verkragting van minderjariges en ’n derde vir mensehandel opgelê. Van der Linde het ook verskeie bykomende gevangenisstraftermyne ontvang, onder meer 15 jaar vir poging tot moord, tien jaar vir seksuele uitbuiting van kinders en tien jaar vir die verspreiding van kinderpornografiese materiaal. Die bykomende vonnisse sal gelyktydig met die lewenslange vonnisse uitgedien word. 

Volgens die NVG het Van der Linde sy eerste slagoffer, wat destyds tussen 12 en 17 jaar oud was, deur ’n vertrouensverhouding genader en tussen 2015 en 2020 herhaaldelik voorberei, seksueel misbruik en verkrag. Hy het ook die kind gebruik om pornografiese materiaal te vervaardig wat hy later op ’n pornografiese webwerf verkoop en versprei het.

Tussen 2022 en 2024 het hy ’n tweede kind, wat tussen 11 en 14 jaar oud was, op soortgelyke wyse geteiken. Nadat die misdade aan die lig gekom het, het hy dié kind ontvoer en in mensehandel betrek. Hy het ook probeer om die kind se lewe te neem in ’n voorval waarin ’n poging tot moord-selfdood betrokke was. Die NVG sê hy het daarna elektroniese toestelle beskadig en bewyse vernietig om die regspleging te verydel. Die tweede kind is ook gemanipuleer om sonder die medewete van ’n derde minderjarige kind pornografiese materiaal van dié kind te vervaardig.

Die staat, verteenwoordig deur adv. Elma van Niekerk, het die verdediging se versoek dat die hof van die voorgeskrewe minimum vonnis afwyk, teengestaan. Die hof het die staat se betoog aanvaar en bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was om ’n ligter vonnis te regverdig nie. Slagofferimpakverklarings het die emosionele en sielkundige trauma van die kinders en hul families uiteengesit. Volgens die NVG het twee van die slagoffers selfdoodneigings ontwikkel.

Die hof het ook beveel dat Van der Linde se besonderhede op die Nasionale Register vir Seksoortreders geplaas word. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit, mag nie met kinders werk nie en word verbied om elektroniese toestelle te besit of te gebruik terwyl hy sy vonnis uitdien.