Brekende Nuus
Boeke

Springs smaakmaker inspireer met boeke op Instagram en Facebook

Jo-Ann Diamond (37), Springs smaakmaker en illustreerder, deel haar liefde vir boeke op Instagram en Facebook en inspireer ander om te lees en te leer.

Jo-Ann Diamond, Springs smaakmaker en boekliefhebber
Jo-Ann Diamond (37) van Springs deel haar liefde vir boeke op Instagram en Facebook. Foto: Verskaf

Jo-Ann Diamond (37) van Springs, ook bekend as Jodi, is ‘n boek- en leesliefhebber en smaakmaker wat mense nie net inspireer om te lees nie, maar ook om te leer. Hierdie Springs smaakmaker deel haar liefde vir boeke op Instagram en Facebook met Suid-Afrika en die wêreld.

Die bruinoog-brunette “bookstagrammer” het in Junie 2021 begin om haar menings oor boeke op sosiale media te deel en het nou al meer as 3 700 volgelinge op Instagram en 1 600 volgelinge op Facebook. Sy het reeds boeke van talle van Suid-Afrika se voorste uitgewers ontvang om te lees en te resenseer.

Springs smaakmaker is ook illustreerder

Haar verbintenis met boeke stop nie by lees nie. Jo-Ann is ‘n illustreerder van beroep en bedryf haar eie onderneming waar sy karakters vir kliënte ontwerp en illustreer, onder meer vir grafiese romans. Sy plaas gereeld van haar ontwerpe en illustrasies op haar sosiale media-profiele.

Sy het hierdie vaardighede self aangeleer en later kursusse by Skills Academy SA, Upskillist en Udemy voltooi om haar kennis te verbreed en haar vaardighede te verfyn.

Matriek, studies en ‘n eerste roman

Jo-Ann is tans besig om haar volwasse matriek te voltooi om die Gewysigde Senior Sertifikaat te behaal. Sy deel gereeld stories oor haar studies op sosiale media en vorder goed. Sy het onlangs 78% in een van haar take vir Engels Eerste Addisionele Taal behaal.

Nadat sy haar Senior Sertifikaat voltooi het, wil sy graag verder studeer in literatuur en geskiedenis, twee van haar grootste belangstellings, as omstandighede dit toelaat, aangesien studies duur kan wees.

Sy skryf ook haar eie kortverhale en werk aan haar eerste roman, waarvan sy reeds 50 000 woorde geskryf het. Een van haar drome is om van haar stories gepubliseer te kry. Jo-Ann is gemotiveerd om hard te werk om ‘n sukses van haar lewe te maak en sien daarna uit om haar passie vir boeke verder uit te leef.

Lees meer boekenuus op Nuusflits se Boeke-afdeling.