Brekende Nuus
Nuus

Sterfte ná geheimsinnige ‘pes’ – WGO soek antwoorde

Foto: Maria Luna Orth

RUSLAND. – Die dood van Daria Shipilova (28) ’n laboratoriumwerker in Siberië, het internasionale kommer oor moontlike longpes laat ontstaan, maar daar is steeds geen amptelike bevestiging dat Shipilova aan die pes gesterf het nie.

Shipilova, wat by die Irkoetsk se Navorsingsinstituut teen Pes gewerk het, is op 2 Oktober dood nadat sy met ernstige longontsteking in die hospitaal opgeneem is. Russiese gesondheidsowerhede sê sy het aan longontsteking van ‘n onbekende oorsprong gesterf en ontken dat haar siekte met haar werk of die pesbakterie verband hou. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), sê Rusland het die organisasie ingelig dat geen pesgeval onlangs in die Irkoetsk-streek aangemeld is nie.

Die WGO het verdere inligting oor die laboratoriumtoetse van Shipilova en die mense met wie sy in aanraking was, asook die redes vir die uitgebreide openbaregesondheidsmaatreëls, versoek. Sowat 200 kontakpersone is volgens die WGO in kwarantyn geplaas. Die organisasie probeer ook berigte verifieer dat ’n tweede werknemer longontsteking van ‘n onbekende oorsprong ontwikkel het. 

Berigte oor hoe Shipilova moontlik siek geword het, verskil. Onbevestigde Russiese mediaberigte het beweer dat sy moontlik op 25 September ’n proefbuis met die pesbakterie Yersinia pestis gebreek het. Ander weergawes beweer sy is moontlik tydens ’n werksreis blootgestel. Geeneen van dié verklarings is deur Russiese gesondheidsowerhede bevestig nie.

Die situasie het tot kommer oor moontlike blootstelling gelei omdat Shipilova by ’n instituut gewerk het wat gevaarlike aansteeklike siektes, insluitend pes, bestudeer. Rospotrebnadzor, Rusland se openbaregesondheidsowerheid, sê uitgebreide toetse onder mense wat met haar in aanraking was, het tot dusver geen bewese pesinfeksies opgelewer nie. 

Die WGO sê hy kan nog nie ’n volledige risikobepaling doen nie omdat hy nie al die nodige inligting het nie. Die organisasie het tegniese ondersteuning oor pes en laboratoriumbiosekuriteit aan Rusland gebied en beklemtoon dat volledige en tydige deel van inligting nodig is om die risiko vir openbare gesondheid te bepaal.

Bronne: Wêreldgesondheidsorganisasie, AP News, The Independent