Die burgerregteorganisasie AfriForum vra dat die regering die algemene brandstofheffing tydelik sal verlaag, om verbruikers en die ekonomie te help te midde van stygende oliepryse weens die konflik in die Midde-Ooste.
Ernst van Zyl van dié organisasie sê ’n brief is aan Enoch Godonwana, die minister van finansies, gestuur om die regering se ingryping te vra. Volgens AfriForum het die konflik in Iran oliepryse wêreldwyd skerp laat styg, wat waarskynlik tot hoër brandstofpryse en duurder verbruikersgoedere sal lei. Van Zyl voeg by dat mense dikwels onderskat hoe groot die invloed van brandstofpryse op die koste van produkte is. Hy sê elke stap in die ekonomie raak duurder wanneer brandstofpryse styg, van die vervoer van grondstowwe tot die aflewering van produkte aan verbruikers.
AfriForum sê ’n soortgelyke stap is reeds in 2022 geneem toe Godongwana saam met Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne en energie, die algemene brandstofheffing tydelik verlaag het ná die uitbreek van die Rusland-Oekraïne-oorlog. Volgens die organisasie glo verskeie ekonome dat dieselfde maatreël weer kan help om die druk op verbruikers te verlig.
Druk hier om meer te lees.







