WES-KAAP. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het direkte tronkstraf van tien jaar verwelkom wat deur die Plettenbergbaai-streekhof opgelê is aan Abigail Jooste (38) wat ’n bejaarde egpaar oor ’n tydperk finansieel uitgebuit het. Jooste van Firgrove, Somerset-Wes, het op 94 aanklagte van bedrog en 30 aanklagte van geldwassery skuld erken en is skuldig bevind.
NVG-woordvoerder, Eric Ntabazalila, sê die uitspraak stuur ’n duidelike boodskap dat misbruik van elektroniese bankdienste, veral waar kwesbare mense geteiken word, ernstig opgeneem word en swaar gestraf sal word. Die hof het die aanklagte saamgevoeg vir vonnisdoeleindes en vir Jooste tot effektiewe gevangenisstraf van tien jaar gevonnis. Sy mag ook nie ’n vuurwapen besit nie.
Uit die hofstukke blyk dit dat Jooste in 2018 telefonies met die slagoffer, M le Roux van De Rust, kontak gemaak en haar oortuig het om internetbankdienste te aktiveer. Sonder haar wete het Jooste toe verskeie rekeninge in haar naam oopgemaak en geld daarheen geskuif. Sy het later ook toegang tot haar man se rekeninge verkry en verskeie aanlyn aankope en oorplasings sonder hul toestemming gedoen. Van die geld is na selfoonnommers wat aan Jooste gekoppel is gestuur en daarna by kitsbanke in onder meer Somerset-Wes, Goodwood en Kaapstad onttrek. Die egpaar het altesaam sowat R94 000 verloor. Jooste het erken sy het geweet haar optrede is onwettig.
Die staat het in die hof aangevoer dat die beskuldigde doelbewus die egpaar se vertroue misbruik het, ten spyte daarvan dat sy ’n eerste oortreder is. Die hof het bevind dat die erns en beplande aard van die misdrywe ’n swaar straf regverdig. Volgens die NVG was die ondersoek ingewikkeld weens die gebruik van aanlyn bankstelsels, maar deeglike werk deur ondersoekers en aanklaers het gelei tot ’n sterk saak wat uiteindelik tot die skuldigbevinding en vonnis gelei het.





