Brekende Nuus
Nuus

10 dood en 11 gewond in skietery by Lwandle-kuierplek

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – 10 mense is vroeg vanoggend (Sondag) in Lwandle doodgeskiet en nog 11 beseer toe gewapende mans omstreeks 01:46 by ’n kuierplek, waar onder meer gebraaide vleis verkoop word, op mense losgebrand het. 

Volgens die polisie het lt.genl. Sizakhele Dyantyi, die provinsiale polisiekommissaris, ’n multidissiplinêre span onder leiding van ernstige geweldsmisdaad-speurders saamgestel om die skietery te ondersoek. Volgens die polisie is vyf mense op die toneel dood, terwyl nog vyf later aan hul beserings beswyk het nadat hulle na mediese fasiliteite vervoer is. Die 11 beseerdes ontvang steeds mediese behandeling. 

Die Lwandle-polisiekantoor het sake van moord en poging tot moord geopen. Speurders is besig om na die verdagtes te soek. Die identiteit van die oorledenes sal bekend gemaak word nadat hul naasbestaandes in kennis gestel is.

Die polisiebestuur het polisieteenwoordigheid in die gebied verhoog terwyl die soektog na die gewapende verdagtes voortduur. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word gevra om met die polisie in aanraking te kom.