Tienerselfdood in jou buurt: help jou tiener rou

Lees ook :

Tienerskap met Stefanie reeksbanner met Stefanie Minnaar

Deur: Stefanie Minnaar

Tieners rou anders

Omdat tieners in ‘n massiewe fisiese en emosionele ontwikkelingsfase is, beleef hulle rou op ‘n diepgaande manier. Hulle rou skommel tussen ‘n volwasse manier van reageer en ‘n kinderlike manier van reageer. Die een oomblik het hulle jou ondersteuning en troos nodig, die volgende oomblik stoot hulle jou geïrriteerd weg, want hulle wil dit op hulle eie manier hanteer.

Met die selfdood van ‘n tiener sal hulle eerder na hulle vriende uitreik, want daar is ‘n gedeelde ervaring. Die intensiteit van hulle emosies kan hulle oorweldig terwyl hulle probeer sin maak hoekom ‘n tiener sy eie lewe sal neem.

1: Verwerk eers jou eie emosies

Jou tiener sal nie noodwendig dieselfde emosie as jy ervaar nie. Reflekteer eers op jou eie emosies sodat jy nie joune op jou tiener afdwing nie. Dit is beter om uit ‘n plek van ondersteuning en begrip te kom as om jou eie gevoelens op jou tiener af te forseer.

2: Moenie die waarheid vermy of wegsteek nie

Wees openlik en eerlik oor wat gebeur het. Om oor selfdood te praat is nie maklik nie, maar dit is belangrik dat jy die regte taal gebruik. As jy die onderwerp systap, is dit moeiliker vir jou tiener om sy denke oor die selfdood te verwerk.

Erken die rou en al die emosie en gedagtes daarom. Skep vir jou tiener ‘n veilige spasie waar hy weet dat alle emosies wat hy beleef geldig is, dat dit saak maak en dat dit reg is om oor die moeilike dinge te praat, al raak dit hoe ongemaklik.

3: Moenie druk op jou tiener plaas nie

Moenie jou tiener forseer om oor die selfdood te praat voor hy reg is nie. Dit is ‘n kritiese stap dat tieners eers hulle eie emosies wil verwerk. Sê vir jou tiener jy is daar om te luister wanneer hy reg is, en wees ondersteunend, dit maak nie saak hoe hy reageer nie. Hy wil jou ondersteuning hê, maar weet nog nie wat om te sê of hoe om daarvoor te vra nie. Gee tyd en wag tot jou tiener na jou toe kom.

4: Hou by daaglikse roetine

Na ‘n verlies sal roetine jou deur die proses help, want daar is nog iets wat normaal voortgaan. Net omdat jou tiener rou, beteken nie sy hele lewe moet inmekaar val nie. Dit sal vir hom voel of sy lewe inmekaar stort, maar roetine is iets om aan vas te hou.

Roetine soos skool, sport, uitgaan saam met vriende en huistake. Jy kan effens meer toegeeflik wees, maar die roetine help jou tiener om te weet dat die lewe weer aangaan en dat hy dit weer kan geniet.

“It is not a matter of waiting for the pain and grief to wane. It is allowing for the possibility that joy and sorrow can and do co-exist.” (Onbekend)

5: Moedig jou tiener aan om te gesels

Soos jou tiener in tye soos hierdie meer na sy vriendekring uitreik, is dit belangrik dat jy dit aanmoedig en jou ondersteuning gee. Reël kuiers saam met die vriende. Jy kan verseker ook professionele hulp aanbeveel, maar moedig die band met die vriendekring aan.

Wanneer om professionele hulp te kry

Wanneer jy sien jou tiener kry uitermatig swaar, kry ‘n terapeut vir hom. Soek saam met jou tiener na iemand. Dit sal vir hom wys jy gee regtig om vir sy welstand.

As dit vir jou moeilik is om jou tiener met sy rou te help omdat dinge nie vir jou sin maak nie, weet net jy is nie alleen nie. Baie ouers sukkel met die selfdood van veral ‘n jongmens. Onthou net om openlik en eerlik te wees en gee jou tiener tyd om te verwerk hoe hy voel.

Bron: Baau Peters, Navigating grief: how to help a teen cope with a peer’s death by suicide.

Hulp is beskikbaar. Bel SADAG se hulplyn by 0800 567 567 of SMS 31393.

Meer oor Stefanie

Stefanie Minnaar is ‘n pastorale narratiewe terapeut en ‘n neuro-, loopbaan- en welstandsafrigter wat met tieners, studente en soms ouers werk. Sy help met graad nege se vakkeuses en met graad 11 en 12 se loopbaanbeplanning. Sy begelei ook tieners en jong volwassenes om hulle volle potensiaal op persoonlike en professionele vlak te bereik deur middel van lewensafrigting.

Sy is die trotse ma van ‘n 22-jarige dogter en ‘n seun wat in Augustus 21 word. Sy het self die tienerjare (net-net) oorleef om die storie te vertel.

Stefanie is die stigter van die Facebook-groep Ouer-Tiener Harmonie, waar sy onderwerpe op die tafel sit sodat ouers met mekaar kan skakel, raad kan gee en stories kan deel om mekaar deur die (soms) stormagtige tienerjare te help. Sluit gerus aan by die groep, of kontak Stefanie by [email protected].

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief